Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 156

Bybelteks(te)

2 KONINGS 3

Die Moabiete rebelleer teen Israel

1Joram seun van Agab het in Samaria koning oor Israel geword in die agtiende regeringsjaar van koning Josafat van Juda. Hy was twaalf jaar lank koning. 2Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, maar nie so erg soos sy pa en ma nie: hy het darem die klippilaar van Baäl wat deur sy pa gemaak is, verwyder. 3Tog het hy volhard in die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het; hy het dit nie laat vaar nie.

4Koning Mesa van Moab was 'n skaapboer wat honderd duisend lammers en die wol van honderd duisend ramme aan die koning van Israel moes lewer. 5Toe Agab dood is, het die koning van Moab teen die koning van Israel gerebelleer. 6Koning Joram het onmiddellik uit Samaria vertrek en die hele Israel onder die wapen gebring. 7Hy het aan koning Josafat van Juda die volgende boodskap gestuur: “Die koning van Moab het teen my gerebelleer. Gaan jy hom saam met my aanval?”

Josafat het geantwoord: “Ek sal saam met jou opruk. Ek en jy is een. My manskappe is jou manskappe, en my perde is jou perde.”

8“Met watter pad sal ons opruk?” het Joram gevra.

“Met die pad deur die Edomwoestyn,” het Josafat geantwoord.

9Die koning van Israel, die koning van Juda en die koning van Edom het saam opgetrek. Nadat hulle sewe dae gevorder het, was daar nie meer water vir die manskappe en vir die diere by hulle nie.

10Toe sê die koning van Israel: “Helaas, die Here het hierdie drie konings geroep net om hulle in die mag van Moab oor te gee.”

11Maar Josafat het gevra: “Is hier nie 'n profeet van die Here deur wie ons die Here kan raadpleeg nie?”

Een van die amptenare van die koning van Israel het geantwoord: “Elisa seun van Safat is hier. Hy het sy opleiding by Elia gekry.”

12Toe het Josafat gesê: “Die woord van die Here is by Elisa.”

Daarna het Josafat en die konings van Israel en Edom na Elisa toe gegaan.

13Elisa het vir die koning van Israel gesê: “Het ons nog iets vir mekaar te sê? Gaan na die profete van jou pa en jou ma toe.”

Maar die koning van Israel het vir hom gesê: “Nee, dit is tog die Here wat hierdie drie konings geroep het net om hulle in die mag van Moab oor te gee.”

14Elisa het geantwoord: “So seker as die Here die Almagtige lewe, in wie se diens ek is, as dit nie was dat ek agting het vir die persoon van koning Josafat van Juda nie, sou ek my nie eens verwerdig het om na jou te kyk nie. 15Bring nou vir my 'n lierspeler.”

Terwyl die lierspeler gespeel het, het die mag van die Here vir Elisa in besit geneem, 16en hy het gesê: “So sê die Here: Daar sal damme en damme water in hierdie vallei staan. 17Kyk, so sê die Here: Julle sal nie wind of reën sien nie, en tog sal hierdie vallei vol water word, sodat julle en julle slagvee en julle pakdiere kan drink. 18Vir die Here is dit maar iets gerings om te doen: Hy sal ook vir Moab in julle mag oorgee. 19Julle sal al hulle vestingstede, die uitsoekstede, inneem, al die mooi bome uitkap, al die fonteine toestop, en al die mooi lande vol klippe gooi.”

20Die volgende môre, teen die tyd dat die offer gewoonlik gebring word, het daar onverwags water uit die rigting van Edom gekom, en die hele gebied het vol water geloop.

21Die Moabiete het verneem dat die konings opruk om teen hulle te veg. Almal wat bewapen kon word, jonk en oud, is opgekommandeer en het by die grens gaan stelling inneem. 22Toe hulle vroeg die volgende môre opstaan, net toe die son opkom oor die water, sien die Moabiete die water oorkant hulle, rooi soos bloed.

23“Dis bloed!” het hulle geskree. “Die konings het met mekaar begin veg en mekaar doodgemaak. Storm op die buit af, Moabiete!”

24Toe hulle by die kamp van die Israeliete kom, het die Israeliete hulle aangeval en verslaan. Die Israeliete het die Moabiete voor hulle uit op die vlug gedryf, Moab binnegedring en dit verwoes. 25Hulle het die stede in puin gelê en elke bewerkbare stuk grond met klippe besaai: elkeen het 'n klip gegooi om dit vol klippe te kry. Elke fontein het hulle toegestop en elke goeie boom afgekap. Uiteindelik het net Kir-Geres oorgebly. Die soldate met slingervelle het die stad omring en dit ingeneem.

26Toe die koning van Moab sien dat hy die geveg gaan verloor, het hy sewe honderd man wat met swaarde bewapen was, gevat in 'n poging om by die koning van Edom deur te breek, maar hulle kon nie. 27Toe vat die koning van Moab sy oudste seun wat in sy plek sou koning word en offer hom as brandoffer op die stadsmuur. Dit het die Israeliete so geskok dat hulle daarvandaan vertrek en na hulle land toe teruggegaan het.

2 KONINGS 4

Die weduwee se olie

1'n Vrou van 'n profeet het haar nood by Elisa kom kla: “My man is dood. U weet self dat hy die Here gedien het. Nou het die skuldeiser gekom om my twee seuns te vat en hulle sy slawe te maak.”

2Elisa het vir haar gesê: “Ek sal jou help. Sê vir my: wat het jy in jou huis?”

Sy het geantwoord: “Ek het niks in die huis nie behalwe 'n erdekannetjie olie.”

3Hy het toe gesê: “Gaan leen nou by al jou bure leë kruike, en sorg dat jy nie te min leen nie. 4Dan gaan jy in jou huis in, maak die deur agter jou en jou seuns toe, en gooi elkeen van hierdie kruike vol olie. Soos elkeen vol word, moet jy hom wegpak.”

5Sy is van hom af weg. Sy het die deur agter haar en haar seuns toegemaak. Soos hulle die kruike na haar toe aangedra het, het sy hulle volgemaak. 6Toe die kruike vol was, sê sy vir een van haar seuns: “Bring vir my nog 'n kruik.”

Maar hy het gesê: “Daar is nie meer 'n kruik oor nie.”

Toe het daar nie 7meer olie uit die kannetjie gekom nie. Sy het by die man van God aangekom en dit vir hom vertel. Hy het gesê: “Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oorbly.”

Die seun van die Sunemmitiese vrou

8Op 'n dag het Elisa na Sunem toe gegaan.

Daar was 'n vooraanstaande vrou wat by hom daarop aangedring het om vir ete oor te bly. Elke keer as hy daar verbykom, het hy eers by haar aangegaan om te eet. 9Sy het vir haar man gesê: “Ek weet dit is 'n heilige man van God wat gereeld hier by ons aankom. 10Kom ons bou 'n klein bovertrekkie en sit vir hom 'n bed, 'n tafel, 'n stoel en 'n lamp daarin. Wanneer hy by ons aankom, kan hy daar intrek.”

11Op 'n dag toe Elisa weer daar aankom, het hy in die bovertrek ingetrek en gaan rus. 12Hy het vir Gehasi sy slaaf gesê: “Roep bietjie die Sunemmitiese vrou.”

Gehasi het haar geroep, en toe sy voor Elisa se kamer staan, 13sê hy vir sy slaaf: “Sê vir haar: Jy het al hierdie moeite vir ons gedoen. Wat kan ek vir jou doen? Sal ek vir jou 'n woordjie doen by die koning of by die hoof van die leër?”

“Ek woon hier tussen my eie mense,” was haar antwoord.

14Hy vra toe: “Maar kan daar nie iets vir haar gedoen word nie?” Waarop Gehasi antwoord: “Ja tog, sy het nie 'n seun nie, en haar man is al oud.”

15“Roep haar hiernatoe,” sê Elisa.

Toe Gehasi haar nader roep, het sy in die deur kom staan.

16Toe sê Elisa: “Hierdie tyd oor 'n jaar sal jy 'n seun in jou arms hou.”

Sy antwoord: “Nee, Meneer, u is 'n man van God, u moet tog nie vir my iets sê wat nie so kan wees nie!”

17Die vrou het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring, presies 'n jaar later, net soos Elisa vir haar gesê het.

18Toe die seun groter geword het, het hy op 'n dag na sy pa-hulle toe gegaan waar hulle besig was om te oes. 19Skielik het hy vir sy pa gesê: “My kop, my kop!”

Sy pa het vir 'n slaaf gesê: “Dra hom na sy ma toe.”

20Die slaaf het hom na sy ma toe gedra. Hy het op haar skoot gelê tot die middag, en toe is hy dood. 21Sy het hom boontoe gedra en hom neergelê op die bed van die man van God, en toe sy uitgaan, het sy die deur agter haar toegetrek. 22Sy het haar man geroep en gesê: “Stuur tog vir my 'n slaaf en 'n donkie. Ek wil na die man van God toe gaan en gou weer terug wees.”

23“Maar waarom gaan jy vandag na hom toe,” het haar man gevra, “dit is mos nie nuwemaan of sabbat nie?”

Maar sy het hom gerusgestel, 24die donkie opgesaal en vir haar slaaf gesê: “Jaag die donkie aan. Moenie dat hy gaan staan nie, behalwe as ek vir jou so sê.”

25Sy is toe vort en het by die man van God aangekom by Karmelberg. Toe die man van God haar op 'n afstand sien aankom, sê hy vir Gehasi sy slaaf: “Dis mos die Sunemmitiese vrou daardie. 26Hardloop haar tegemoet en vra vir haar: Gaan dit goed met jou? Gaan dit goed met jou man? En met jou seun?”

Vir Gehasi het sy gesê: “Dit gaan goed,” 27maar toe sy by die man van God op die berg kom, het sy aan sy voete vasgeklou.

Toe Gehasi nader staan om haar weg te stoot, sê die man van God: “Los haar, sy is baie hartseer. Die Here het dit vir my verberg en vir my niks gesê nie.”

28Sy sê toe vir hom: “Meneer, het ek van u 'n seun gevra? Het ek nie gesê: Moenie by my 'n valse hoop wek nie?”

29Toe sê hy vir Gehasi: “Maak gou klaar, vat my kierie en vertrek. As jy iemand raakloop, moet hom nie groet nie. Gaan sit my kierie op die gesig van die seun.”

30Toe sê die seun se ma: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie toelaat om agter te bly nie.”

Hy het opgestaan en saam met haar gegaan. 31Gehasi was voor hulle daar en hy het die kierie op die seun se gesig gesit, maar daar was geen geluid of enige teken van lewe nie. Hy gaan toe terug na Elisa toe en sê vir hom dat die seun nie bygekom het nie. 32Toe Elisa in die huis kom, het die seun daar dood gelê net soos hy op die bed neergelê was. 33Elisa het die kamer binnegegaan en die deur toegemaak sodat hulle alleen was. Nadat hy tot die Here gebid het, 34het Elisa op die bed geklim en bo-op die seun gaan lê. Hy het vol op die seun gelê met sy mond op die seun se mond, sy oë op sý oë, sy hande op sý hande, sodat die seun se liggaam warm geword het. 35Nadat hy 'n keer heen en weer in die huis geloop het, het hy weer op hom gaan lê. Die seun het sewe keer genies en toe sy oë oopgemaak.

36Elisa het vir Gehasi geroep en hom beveel om die Sunemmitiese vrou te roep. Hy het dit gedoen en toe sy inkom, sê Elisa vir haar: “Tel jou seun op.”

37Sy het ingekom en by sy voete op haar knieë geval en gebuig. Toe tel sy haar kind op en gaan uit.

'n Giftige bredie word eetbaar

38Elisa is terug Gilgal toe. Daar was in dié tyd 'n hongersnood in die land. Terwyl die profete aan sy voete gesit het, sê hy vir sy slaaf: “Sit 'n groot pot op die vuur en kook 'n bredie vir die profete.”

39Een van hulle is veld toe om te gaan kruie pluk. Hy het op wilde ranke afgekom en wildekomkommers daarvan afgepluk tot sy sakke vol was. Hy het dit in die pot met bredie gaan insny sonder om te weet wat dit regtig was.

40Hulle het met ete vir die manne van die bredie opgeskep, maar net toe hulle dit proe, roep hulle uit: “Man van God, daar is gif in die kos!” Hulle kon dit nie eet nie.

41Elisa het gesê: “Bring 'n bietjie meel.”

Hy het dit in die pot gegooi en gesê: “Skep op vir die mense dat hulle kan eet.”

Die kos in die pot was toe nie meer giftig nie.

Kos vir honderd mense

42Daar het 'n man uit Baäl-Salisa aangekom wat vir die man van God brood gebring het, twintig garsbrode gebak met meel van die nuwe oes, en ook vars koringare.

Elisa het gesê: “Gee dit vir die mense om te eet.”

43Maar sy slaaf het beswaar gemaak: “Hoe kan ek die bietjie kos aan 'n honderd man voorsit?”

Maar Elisa het weer gesê: “Gee dit vir die mense om te eet, want so sê die Here: Hulle sal eet en nog oorhou.”

44Die slaaf het dit vir hulle voorgesit. Hulle het geëet en oorgehou, net soos die Here gesê het.

2 KONINGS 3:1-4:44AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS