Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 152

Bybelteks(te)

1 KONINGS 19

Elia vlug vir Isebel

1Agab het vir Isebel vertel wat Elia alles gedoen het, ook dat hy al die profete om die lewe gebring het. 2Toe het Isebel 'n boodskapper na Elia toe gestuur om vir hom te sê: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.”

3Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat. 4Hy self het egter 'n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder 'n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.”

5Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud 'n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!”

6Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en 'n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. 7Die engel het 'n tweede keer aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.”

8Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.

9Hy het in 'n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. Toe het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?”

10Hy antwoord toe: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”

11Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.”

Skielik was daar 'n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar 'n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. 12Na die aardbewing was daar 'n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar 'n fluistering in die windstilte.

13Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy 'n stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?”

14Hy het geantwoord: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”

15Maar die Here sê vir hom: “Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe, en as jy daar aangekom het, moet jy vir Gasael salf tot koning van Aram. 16Jy moet ook vir Jehu seun van Nimsi salf tot koning van Israel, en vir Elisa seun van Safat uit Abel-Megola moet jy salf tot profeet om jou op te volg. 17Dan sal dit só wees: wie Gasael se swaard vryspring, Jehu sal hom doodmaak; wie Jehu se swaard vryspring, Elisa sal hom doodmaak. 18Maar Ek sal in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie.”

19Nadat hy daarvandaan af weggegaan het, kry hy vir Elisa seun van Safat besig om te ploeg met twaalf spanne van twee, terwyl hy self by die agterste span geloop het. Toe Elia by hom verbyloop, gooi Elia sy mantel op hom. 20Hy het sy osse net so gelos en agter Elia aangehardloop en gesê: “Laat ek tog net my pa en ma gaan groet. Dan sal ek saam met u gaan.”

Elia antwoord hom toe: “Gaan as jy wil. Ek hou jou mos nie terug nie.”

21Toe draai Elisa om en gaan slag twee osse, en met die juk het hy die vleis gebraai en vir sy werksmense gegee om te eet. Daarna het hy saam met Elia gegaan en sy volgeling geword.

1 KONINGS 20

Agab verslaan die Arameërs

1Koning Ben-Hadad van Aram het sy hele leër laat bymekaarkom. Daar was twee en dertig konings by hom met ruitery en strydwaens. Hy het opgetrek teen Samaria en dit beleër. Tydens die beleg 2het hy boodskappers die stad in gestuur na koning Agab van Israel toe 3en vir hom laat weet: “So sê Ben-Hadad: Jou silwer en goud is myne. Jou mooiste vrouens en kinders is myne.”

4Die koning van Israel het geantwoord: “Dit is soos U Majesteit sê: Ek en alles wat myne is, behoort aan u.”

5Die boodskappers het toe weer na Agab toe gekom en gesê: “So sê Ben-Hadad: Ek het jou die boodskap gestuur dat jy jou silwer en goud, jou vrouens en kinders vir my moet gee. 6Nou ja, ek stuur môre my amptenare na jou toe. Hulle sal jou paleis en die huise van jou onderdane deursoek, en hulle sal beslag lê op alles wat hulle oë begeer en dit vir hulle vat.”

7Die koning van Israel roep toe al die leiers van die land bymekaar, en sê: “Kyk nou net! Hierdie man soek moeilikheid. Toe hy my vrouens en kinders en my silwer en goud geëis het, het ek nie geweier nie.”

8Al die leiers en die hele volk het gesê: “U moet nie nou gehoor gee nie. U mag nie inwillig nie!”

9Toe sê Agab vir Ben-Hadad se boodskappers: “Sê vir sy majesteit die koning: Alles wat u die eerste keer geëis het, sal ek gee, maar aan hierdie nuwe eis kan ek nie toegee nie.”

Die boodskappers het die antwoord vir Ben-Hadad gebring, 10en hy het terug laat weet: “Mag my gode my om die lewe bring as ek nie soveel manskappe met my saambring dat die stof van Samaria nie genoeg sal wees om hulle hande mee te vul nie.”

11Daarop het die koning van Israel opgemerk: “Die spreekwoord lui: Hy wat hom klaarmaak om te veg, moenie roem soos een wat klaar die oorwinning behaal het nie.”

12Toe Ben-Hadad dít hoor, was hy besig om saam met die ander konings in die tente te drink en hy sê vir sy offisiere: “Val aan!” en hulle het klaargemaak vir die aanval op die stad.

13'n Profeet het egter by koning Agab van Israel gekom en gesê: “So sê die Here: Sien jy daardie groot menigte? Ek gee hulle vandag in jou mag oor. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.”

14Agab vra toe: “Deur wie gaan die Here dit doen?” en die profeet sê: “So sê die Here: Deur die jong soldate van die distrikshoofde.”

Agab vra toe: “Wie moet die geveg aanknoop?” en die profeet antwoord: “U.”

15Toe ontplooi Agab die distrikshoofde se jong soldate, twee honderd twee en dertig. Agter hulle het hy die leër, al die Israeliete, ontplooi, sewe duisend man. 16Dit was middag toe hulle uit die stad uitgaan, en Ben-Hadad was aan die drink in die tent, hy en die twee en dertig konings wat hom kom help het. 17Die jong soldate van die distrikshoofde het aan die voorpunt opgeruk, en daar is vir Ben-Hadad gesê: “Daar kom manskappe uit Samaria uit.”

18Hy sê toe: “Of hulle vrede soek of oorlog, vang hulle lewendig!”

19Intussen het die jong soldate van die distrikshoofde uit die stad getrek, en die leër agter hulle aan. 20Elkeen het sy man verslaan. Die Arameërs het op die vlug geslaan, en die Israeliete het hulle agtervolg.

Koning Ben-Hadad van Aram het te perd saam met 'n aantal ruiters weggekom.

21Die koning van Israel het uit sy stad gekom en die ruitery en die strydwamag verslaan. So het hy vir Aram 'n groot slag toegedien.

22Die profeet het weer by die koning van Israel gekom en vir hom gesê: “Gaan versterk u leër! Vra raad en dink goed na oor wat u doen, want vroeg volgende jaar val die koning van Aram u weer aan.”

Agab verslaan weer die Arameërs en sluit 'n verdrag met hulle

23Die raadgewers van die koning van Aram het intussen vir hom gesê: “Hulle gode is berggode en daarom was hulle sterker as ons. Ons moet hulle in die vlakte pak. Dan sal ons sterker wees as hulle. 24U moet só maak: onthef al die konings van hulle verantwoordelikhede en stel goewerneurs in hulle plek aan. 25Bring vir u self 'n leër op die been, net so sterk soos dié een wat verslaan is, met ruitery soos daardie en 'n strydwamag soos daardie. Dan pak ons hulle in die vlakte, en ons sal sterker wees as hulle.”

Ben-Hadad het na hulle raad geluister en so gemaak.

26Vroeg die volgende jaar het Ben-Hadad die Aramese leër laat bymekaarkom en na Afek toe opgetrek om teen Israel oorlog te maak.

27Die Israeliete was goed toegerus en het die Arameërs tegemoet getrek. Die Israeliete het teenoor die Arameërs kamp opgeslaan. Hulle was soos twee troppe bokke, en die wêreld was vol Arameërs.

28Die man van God het by die koning van Israel gekom en gesê: “So sê die Here: Omdat die Arameërs gesê het: ‘Die Here is 'n berggod, Hy is nie 'n god van die vlaktes nie,’ gaan Ek hierdie hele groot menigte in jou mag oorgee. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”

29Sewe dae lank het die leërs so teenoor mekaar gelê. Op die sewende dag het die geveg losgebreek, en die Israeliete het honderd duisend voetsoldate van die Arameërs op dié een dag verslaan. 30Die res het die stad Afek in gevlug en die stadsmuur het op hulle omgeval. Hulle was sewe en twintig duisend man.

Ben-Hadad het ook die stad in gevlug en daar van kamer tot kamer weggekruip.

31Sy soldate sê toe vir hom: “Ons het gehoor die Israelitiese konings is genadig. Kom ons trek rouklere aan en bind toue om ons koppe en gee ons oor aan die koning van Israel. Miskien spaar hy u lewe.”

32Hulle trek toe rouklere aan en bind toue om hulle koppe en lewer hulleself uit aan die koning van Israel.

“Ben-Hadad onderwerp hom aan u,” sê hulle, “en hy vra dat u sy lewe moet spaar.”

Toe sê Agab: “Lewe hy nog? Hy is my broer!”

33Die manne het dit as 'n gunstige teken opgevat en haastig by sy opmerking aangesluit deur te sê: “Ben-Hadad ís u broer.”

Agab sê toe: “Gaan haal hom!”

Toe Ben-Hadad by hom kom, het Agab hom by hom op die strydwa laat klim.

34Daar het Ben-Hadad vir hom gesê: “Die stede wat my pa van jou pa afgevat het, sal ek teruggee. Jy mag ook vir jou 'n handelsbuurt inrig in Damaskus soos my pa in Samaria gedoen het.”

“En ek sal jou laat gaan,” sê koning Agab, “nadat jy 'n verdrag met my gesluit het.”

Ben-Hadad het toe 'n verdrag met hom gesluit, en Agab het hom laat gaan.

'n Profeet kondig Agab se vonnis aan

35'n Profeet het in opdrag van die Here vir 'n vriend gesê: “Slaan my tog!”

Maar hy het geweier om hom te slaan. 36Toe sê die profeet vir hom: “Jy was ongehoorsaam aan die opdrag van die Here, en daarom sal 'n leeu jou verskeur wanneer jy van my af weggaan.”

Toe hy van hom af weggegaan het, het 'n leeu op hom afgekom en hom verskeur.

37Die profeet kry toe iemand anders en sê: “Slaan my tog.”

Hy het die profeet geslaan; hy het hom selfs stukkend geslaan. 38Die profeet het die koning by die pad gaan staan en inwag: die profeet was onherkenbaar, hy het 'n verband oor sy oë gehad. 39Toe die koning daarlangs kom, het hy na die koning geroep en gesê: “Ek het oorlog toe gegaan. Daar het iemand 'n man na my toe gebring en gesê: ‘Pas hierdie man op! As hy ontsnap, kom jy in sy plek, of anders moet jy vier en dertig kilogram silwer betaal.’ 40Maar ek was met ander dinge besig en toe ek kyk, is hy nie meer daar nie!”

Die koning van Israel sê toe vir hom: “Jy het jou eie vonnis gevel.”

41Die profeet het die verband van sy oë afgeruk sodat die koning van Israel kon sien dat hy 'n profeet is. 42Hy sê toe vir die koning: “So sê die Here: Omdat jy die man wie se lewe Ek geëis het, vry laat weggaan het, sal jou lewe in die plek van sy lewe kom, en jou volk in die plek van sy volk.”

43Toe het die koning van Israel bedruk en kwaad huis toe vertrek en in Samaria aangekom.

1 KONINGS 19:1-20:43AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS