Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 150

Bybelteks(te)

2 KRONIEKE 13

Die oorlog tussen Abia en Jerobeam

1In die agtiende regeringsjaar van koning Jerobeam het Abia koning oor Juda geword, 2en hy het drie jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Miga 'n dogter van Uriël, uit Gibea.

Daar het oorlog tussen Abia en Jerobeam uitgebreek. 3Abia het die oorlog begin met 'n mag van vier honderd duisend uitgesoekte soldate, en Jerobeam het hom teengestaan met ag honderd duisend man, ook uitgesoekte soldate.

4Abia was op Semarajimberg in die Efraimsberge en hy het daarvandaan geroep: “Luister, Jerobeam en al julle Israeliete! 5Julle weet tog dat die Here die God van Israel die koningskap oor Israel vir altyd aan Dawid en sy nageslag gegee het. Dit is 'n onverbreekbare verbond. 6Jerobeam seun van Nebat en amptenaar van Salomo seun van Dawid het teen sy koning in opstand gekom, 7en 'n klomp roekelose boewe het om hom saamgekoek. Hulle was te sterk vir Rehabeam seun van Salomo, want hy was nog jonk en sag en kon hom nie teen hulle handhaaf nie. 8Nou wil julle die koninklike mag van die Here weerstaan wat Hy aan die nageslag van Dawid toevertrou het. Júlle is baie en julle het die goue kalwerbeelde by julle wat Jerobeam vir julle vir gode gemaak het. 9Julle het die priesters van die Here, die nageslag van Aäron, en ook die Leviete verdryf en vir julle priesters aangestel soos die volke in ander lande doen: elkeen wat 'n bul of sewe skape gebring het, het priester geword vir daardie afgode van julle.

10“Óns dien die Here ons God; óns het Hom nie verlaat nie. Die priesters wat die diens van die Here verrig, is uit die geslag van Aäron, en die Leviete staan hulle by. 11Hulle bring elke môre en elke aand vir die Here brandoffers en geurige wierookoffers, hulle sit gereeld die offerbrood op 'n rein tafel en steek elke aand die goue kandelaar se lampe op. Ons onderhou nog die diens van die Here ons God, maar júlle het Hom verlaat. 12Ons het die Here self by ons as leier, en sy priesters staan reg om die trompette te blaas dat die stryd teen julle kan begin. Israeliete, moenie teen die Here, die God van julle voorvaders, veg nie. Julle kan nie wen nie!”

13Jerobeam het van sy manskappe om die linies van Juda gestuur om 'n hinderlaag agter hulle op te stel. Daar was dus 'n hinderlaag agter die Judeërs, en Jerobeam en die ander troepe was voor hulle. 14Toe die Judeërs omkyk en sien hulle word van voor en van agter bedreig, het hulle na die Here om hulp geroep en het die priesters die trompette geblaas. 15Die manskappe van Juda het die oorlogskreet aangehef, en God het Jerobeam en die hele Israel 'n neerlaag laat ly teen Abia en Juda. 16Die Israeliete het vir Juda gevlug, want God het Israel in die mag van Juda oorgegee. 17Abia en sy manne het 'n groot slagting onder hulle aangerig. Vyf honderd duisend van Israel se uitgesoekte manne het gesneuwel. 18So is die Israeliete destyds 'n vernederende neerlaag toegedien, en het Juda die oorhand gekry omdat hulle gesteun het op die Here, die God van hulle voorvaders. 19Abia het sy oorwinning oor Jerobeam opgevolg met die besetting van verskeie van Jerobeam se stede: Bet-El, Jesana en Efron, elkeen met sy voorposte.

20Gedurende die regeringstyd van Abia kon Jerobeam nie sy mag herwin nie. Die Here het hom onverwags laat sterf.

Die dood van Abia

21Abia se mag het toegeneem. Hy het veertien vrouens gehad en was die pa van twee en twintig seuns en sestien dogters. 22Die res van die verhale oor Abia, wat hy gedoen en gesê het, is opgeteken in Die Kommentaar van die Profeet Iddo.

2 KRONIEKE 14

1Abia is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Asa het hom as koning opgevolg en in dié se tyd het die land tien jaar lank vrede gehad.

Die godsdienstige en militêre maatreëls van Asa

2Asa het gedoen wat goed en reg is in die oë van die Here sy God. 3Hy het die altare van vreemde gode en die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. 4Hy het bevel gegee dat Juda aan die Here, die God van hulle voorvaders, gehoorsaam moet wees deur sy wil te doen en sy gebooie na te kom. 5Hy het die hoogtes en die wierookaltare in al die stede van Juda laat verwoes. Onder hom het die land vrede gehad.

6Omdat die land vrede gehad het, en Asa nie oorlog moes voer nie, het hy in dié jare vestingstede in Juda gebou. Die Here het hom rus gegee, 7en daarom het hy vir Juda gesê: “Laat ons dié stede versterk met mure en torings, poorte en sluitbalke. Die land is nog ons s'n, want ons is gehoorsaam aan die Here ons God, en Hy het ons na alle kante toe rus gegee.”

Hulle was dan ook voorspoedig met die bouwerk.

Die veldslag teen die Kussiete

8Asa se leër het bestaan uit drie honderd duisend weerbare man uit Juda wat met skild en spies bewapen was, en twee honderd en tagtig duisend uit Benjamin, gewapen met skild en pyl en boog, almal dapper manne.

9Die Kussiet Serag het Juda binnegeval met 'n leër van 'n miljoen man en met drie honderd strydwaens. Hy het deurgedring tot by Maresa, 10en daar het Asa hom tegemoet getrek. Die Kussiete was opgestel in die Sefatalaagte by Maresa.

11Asa het die Here sy God aangeroep en gesê: “Here, net U kan die swakke teen 'n oormag help. Help ons, Here ons God! Ons steun op U, en in u Naam trek ons teen dié menigte op. U is ons God, Here; moenie dat 'n méns teen U seëvier nie.”

12Die Here het die Kussiete die onderspit laat delf teen Asa en Juda. Toe die Kussiete op die vlug slaan, 13het Asa en die manne by hom hulle agtervolg tot by Gerar, en daar het soveel Kussiete gesneuwel dat hulle leër nie kon herstel nie. Hulle is deur die Here en sy leër uitmekaargeslaan. Die Judeërs het 'n groot hoeveelheid buit gekry. 14Hulle het toe al die stede in die omgewing van Gerar ingeneem en geplunder, want die stede was van skrik bevange vir die Here. Daar was ook baie buit. 15Daarna het hulle die kampe van die veewagters aangeval en baie kleinvee en kamele gebuit en na Jerusalem toe saamgevat.

2 KRONIEKE 15

Die godsdienstige hervormings van Asa

1Die Gees van God het oor Asarja seun van Oded gekom. 2Hy het Asa tegemoet gegaan en vir hom gesê: “Luister na my, Asa en alle manne van Juda en Benjamin: As julle by die Here is, sal Hy by julle wees; as julle na Hom vra, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat. 3Israel was lank sonder die ware God, sonder 'n priester wat die wil van God bekend kon maak, en sonder die woord van God. 4Toe Israel hom in sy nood tot die Here sy God bekeer het en na Hom gevra het, het die Here Hom deur hulle laat vind. 5In daardie tyd kon niemand veilig kom of gaan nie, want daar was groot onrus in al die lande. 6Volk het teen volk gebots, stad teen stad, want God het onrus en nood oor hulle gebring. 7Maar julle moet vasstaan en nie moedeloos word nie, want julle sal die beloning vir julle optrede ontvang.”

8Toe Asa hoor wat die profeet, die seun van Oded, aankondig, het hy moed geskep en die afgodsbeelde uit die hele gebied van Juda en Benjamin laat verwyder, en ook uit die stede wat hy in die Efraimsberge verower het. Hy het ook die altaar van die Here wat voor die ingangsportaal van die tempel was, laat regmaak.

9Deur hierdie optrede het hy die hele Juda en Benjamin om hom saamgetrek, en ook talle immigrante uit Efraim en Manasse en uit Simeon, wat uit Israel na hom toe oorgeloop het toe hulle sien die Here sy God is by hom.

10In die derde maand van die vyftiende regeringsjaar van Asa het hulle almal in Jerusalem bymekaargekom 11en op dié bepaalde dag vir die Here offerandes gebring uit die buit wat hulle saamgebring het: sewe honderd beeste en sewe duisend stuks kleinvee. 12Hulle het ook 'n verbond gesluit om aan die Here die God van hulle voorvaders gehoorsaam te wees met hulle hele hart en siel. 13Elkeen wat ongehoorsaam was aan die Here die God van Israel, moes doodgemaak word, klein en groot, man en vrou. 14Hulle het die eed aan die Here hardop afgelê onder begeleiding van jubelroepe, trompetgeskal en die klank van die ramshoring. 15Die hele Juda het hulle verheug oor die eed, want hulle het dit met hulle hele hart afgelê. Dit was vir hulle 'n vreugde om na die Here te vra, en Hy het Hom deur hulle laat vind en hulle rus gegee na alle kante toe.

16Koning Asa het vir Maäka, sy ouma, as koninginmoeder afgesit omdat sy 'n Asjerabeeld, 'n walglike ding, laat maak het. Asa het die ding stukkend gekap, dit fyngemaal en in die Kedrondal in die vuur gegooi. 17Die hoogtes het wel nie heeltemal uit Israel verdwyn nie, maar Asa was sy lewe lank getrou aan die Here. 18Hy het die wydingsgeskenke van sy pa, en ook sy eie, in die tempel van God gebring: silwer, goud en offergereedskap. 19Tot sy vyf en dertigste regeringsjaar was daar nie oorlog nie.

2 KRONIEKE 16

Asa sluit 'n verdrag met die Arameërs

1In die ses en dertigste regeringsjaar van Asa het koning Baesa van Israel met 'n veldtog teen Juda begin. Hy het die stad Rama in 'n vesting omskep om te verhoed dat mense heen en weer beweeg na en van koning Asa van Juda. 2Asa het toe silwer en goud uit die skatkamers van die huis van die Here en die paleis gevat en dit vir koning Ben-Hadad van die Arameërs in Damaskus gestuur met die boodskap: 3“Daar is 'n verdrag tussen u en my en daar was al een tussen ons vaders. Ek stuur vir u silwer en goud. Breek u verdrag met koning Baesa van Israel dat hy uit my land kan terugtrek.”

4Ben-Hadad het voldoen aan die versoek van koning Asa. Hy het sy leëraanvoerders gestuur om die stede van Israel aan te val, en hulle het Ijon, Dan, Abel-Majim en al die voorraadstede in Naftali verower. 5Toe Baesa dit hoor, het hy die bouwerk by Rama gestaak en die hele onderneming laat vaar. 6Koning Asa het die hele Juda saam gevat en hulle die klip en hout wat Baesa vir die bouwerk by Rama gebruik het, laat wegdra. Hulle het dié gebruik vir bouwerk by Geba en Mispa.

Asa word bestraf

7In dié tyd het die siener Ganani na koning Asa van Juda toe gekom en vir hom gesê: “Jy het gesteun op die koning van Aram, jy het nie op die Here jou God gesteun nie. Daarom het die leër van die koning van Aram jou ontglip. 8Die Kussiete en die Libiërs was 'n groot leërmag met 'n magtige getal strydwaens en ruiters, maar jy het gesteun op die Here, en Hy het hulle aan jou oorgegee. 9Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Maar nou het jy dwaas opgetree en daarom sal jy van nou af oorlog hê.”

10Asa was so kwaad vir die siener dat hy hom in die tronk laat sit het. Hy was woedend oor wat die siener gesê het. In dié tyd het Asa ook begin om sommige mense sleg te behandel.

Die dood van Asa

11Die verhale oor Asa, dié van vroeër sowel as dié van later, is opgeteken in die annale van die konings van Juda en Israel. 12In sy nege en dertigste regeringsjaar het Asa 'n uiters ernstige siekte aan sy voete opgedoen, maar selfs in dié siekte het hy nie die Here geraadpleeg nie, wel die dokters. 13Hy is oorlede in die een en veertigste jaar van sy regering. 14Hulle het hom begrawe in die graf wat hy vir hom in die Dawidstad laat uitkap het, en hulle het sy liggaam neergelê op die plek wat hy met balsem en allerlei speserymengsels laat bedek het. Hulle het ook ter ere van hom 'n groot vuur aangesteek.

2 KRONIEKE 13:1-16:14AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS