Bible Society of South Africa

Tekskritiek van die Ou Testament: Qumran

In Qumran is gedeeltes van al die boeke van die Ou Testament gevind, behalwe Ester. Van sommige boeke is slegs fragmente gevind, maar van ander is byna die volledige teks gevind, soos Jesaja.


Die bybelse manuskripte van Qumran is meer as ʼn duisend jaar ouer as die standaardteks van die Ou Testament, die Masoretiese teks.

Waarom is hierdie vondste belangrik?

Die weergawes van die boeke van die Ou Testament wat by Qumran gevind is, is om verskeie redes belangrik vir tekskritiek:

  • Die tekste van Qumran bevestig die ouderdom van die Masoretiese teks.
  • Dit bevat verskille van die Masoretiese teks op woordvlak.
  • Dit bevat verskille op die vlak van frases, sinsdele, perikope en selfs hoofstukke.

Dooie See-rolle bevestig betroubaarheid

Die Dooie See-rolle wys dat die standaardteks baie betroubaar is. Die Masoretiese teks het reeds in breë trekke in die tyd voor 70 n.C. bestaan. Sommige weergawes van die boeke van die Bybel wat by Qumran gevind is, verskil aansienlik minder van die standaardteks. Die Masorete was daarom baie presies toe hulle die tekste uit hierdie tradisie gekopieer het.

Verskillende weergawes van die teks

Die Dooie See-rolle wys egter ook dat daar rondom die begin van ons era ander, verskillende weergawes van die Ou Testamentiese tekse was. Nie net die Masoretiese tradisie kon in die tekste by Qumran gevind word nie, maar ook ander weergawes van boeke van die Bybel is daar gevind. Baie geleerdes is van mening dat hierdie variasie in manuskripte by Qumran verteenwoordigend was van Judaïsme van die tyd. Dit beteken dat daar nog nie ʼn standaardteks van die Bybel voor die jaar 70 n.C. bestaan het nie.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.8
VOLG ONS