Bible Society of South Africa

Masoretiese teks

Die Masoretiese teks in die standaard Hebreeuse teks van die Ou Testament. Oorspronklik is woorde in hierdie teks slegs in konsonante geskryf. Later, in die Middeleeue, is vokale by die teks gevoeg. Hierdie byvoeging van vokale word “vokalisasie” genoem.

Die Masorete

Die Masoretiese teks met slegs konsonante is eeu na eeu deur Joodse geleerdes oorgeskryf en oorgelewer. Hierdie geleerdes is die Masorete genoem, na aanleiding van die Hebreeuse woord masar, wat beteken “om oor te lewer”. Die teks van die Hebreeuse Bybel wat deur hulle oorgelewer is, word die Masoretiese teks genoem. Die Masoretiese teks is daarom ʼn kombinasie van eeue-oue konsonanteteks en Middeleeuse toevoegings. In die Middeleeue is nie net vokaaltekens bygevoeg nie, maar ook ander diakritiese tekens. Dit was eers in hierdie periode dat die teks in verse opgedeel is.

Die tyd voor die Masoretiese teks

Van ongeveer 300 v.C. tot 100 n.C. was daar verskillende Hebreeuse tekste van baie boeke van die Ou Testament. Die tekste was gedurig oorgeskryf. In sommige gevalle was die verskillendetekste baie dieselfde, terwyl dit soms ook aansienlik verskil het. In laasgenoemde geval sou ʼn mens kon sê dat daar verskillende weergawes van die Bybel in omloop was. Sedert die tweede eeu n.C. het een enkele weergawe die belangrikste geword. Dit het die standaardteks geword, wat later die Masoretiese teks genoem is.

Status van die Masoretiese teks

Die Masoretiese teks dateer uit die Middeleeue, maar uit fragmente van die Qumran en die Septuaginta is dit duidelik dat die konsonanteteks van die Masoretiese teks baie ouer is, vanaf ten minste 300 v.C.


Die Masoretiese teks is die beste teks vir die boeke van die Ou testament. Maar terselfdertyd moet daar onthou word dat hierdie teks eers sedert die tweede eeu v.C. die standaardteks geword het. In die eeue voor dit was daar, naas hierdie teks, ander teksweergawes in omloop.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.17.10
VOLG ONS