Bible Society of South Africa

Sinai

Sinaiberg (of Horebberg) is die berg waarop God ʼn verbond met sy volk Israel gesluit het en aan hulle die tien gebooie gegee het. Hierdie berg is waarskynlik in die Sinaiwoestyn geleë wat aan die Sinai-skiereiland in die woestyn naby Egipte geleë is.

Heilige plek

Sinaiberg word ook Horebberg genoem. Dit is die berg waarvandaan God heers en waar mense Hom kan ontmoet (Rigters 5:5; Psalm 68:9).



Sinai is ʼn heilige plek. Moses moet sy skoene uittrek omdat die grond waarop hy staan, heilig is (Eksodus 3:5). Die profeet Elia gaan ook na Horebberg om God te ontmoet wanneer hy moet vlug van koningin Isebel (1 Konings 19:8-14).


Sinaiberg word nêrens in die Bybel “die heilige berg” genoem nie. Daardie naam verwys altyd na Sionsberg in Jerusalem.

Moses

Sinaiberg speel ʼn belangrike rol in die bevryding van die volk Israel uit Egipte. Dit is die plek waar die Here Hom aan Moses openbaar en hom beveel om die volk uit Egipte te lei (Eksodus 3:1-6).


Tydens die tog deur die Sinaiwoestyn ontvang Moses die tien gebooie van God op Sinaiberg, nadat hy 40 dae op die berg gebly het. Daar sê God ook vir hom hoe die tabernakel moet lyk.

Sinai in die Nuwe Testament

In die Nuwe Testament word die berg slegs een maal in Galasiërs 4:24-25 by name genoem. Hier sê Paulus dat die berg vir die onderdrukkende verbond staan wat aangegaan is toe die volk nog slawe was, voordat Jesus gekom het. Sinai vorm hier ʼn kontras met die hemelse Jerusalem waar mense waarlik vry sal wees.

Ligging

Dit is onduidelik waar presies die berg geleë is. Verskillende gedeeltes weerspreek mekaar. Die waarskynlikste liggings is in die noorde of die suide van die Sinai-skiereiland, tussen Egipte en Kanaän. Na hulle bevryding het die volk Israel oor hierdie skiereiland getrek (Eksodus 16:1).



Gewoonlik word Gabal Musa (waar die Katarinaklooster nou geleë is) in die suide van die skiereiland geïdentifiseer as Sinaiberg.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS