Bible Society of South Africa

Nyl

Die Nyl is een van die langste riviere in die wêreld. Die rivier ontspring as die “Blou Nyl” in die Tanameer in Etiopië en as die “Wit Nyl” in die Victoriameer. Hierdie twee riviere vloei dan na die noorde waar dit in Khartoem, die hoofstad van Soedan, saamvloei. Daarna vloei die Nyl verder na die noorde deur Egipte, waar dit in die Middellandse See uitmond.

Die gawe van die Nyl

Die naam “Nyl” is van Grieks afkomstig. In die Ou Testament is daar nie ʼn naam vir die Nyl nie, maar word daar na die Nyl verwys deur die gebruik van die Egiptiese leenwoord je’or wat “rivier” beteken.


In die oudheid het Egipte bekend gestaan as “die gawe van die Nyl”. Die jaarlikse oorstroming van hierdie rivier het verseker dat die landbougrond elke jaar met vrugbare slik bedek is. Dit het betreklik onlangs ʼn einde gekom toe die Aswandam gebou is.

Die styging en die daling van die water van die Nyl

Die styging en daling van die Nyl was ook in Ou Testamentiese tye bekend. Hierdie verskynsel word daarom as ʼn beeld in Amos 8:8 gebruik: die hele land sal in beroering kom en weer wegsak, net soos die Nyl.


Die styging van die water van die Nyl was verantwoordelik vir die vrugbaarheid van die land. Hierdie verskynsel word daarom in Jeremia 46:7-8 gebruik as ʼn beeld van die militêre mag van Egipte. Die Egiptenare sal die aarde oorstroom, net soos die Nyl. Hulle doen dit egter nie om vrugbaarheid te bewerk nie, maar om die stede van die vyand te verwoes. Daarom is dit baie belangrik vir die Israeliete om die water van die Nyl in toom te hou.

Water in bloed

In die Ou Testament het die Nyl oor die algemeen ongunstige konnotasies. Moses is as baba uit die Nylrivier gered. Dit is waarom hy ”Moses” genoem word, wat beteken “uit die water gehaal” (Eksodus 2:10).


As volwassene wys Moses en sy broer Aäron dat God mag het oor Egipte deur die water van die Nyl in bloed te verander (Eksodus 7:17-18; sien ook Psalm 78:44).

Geen water in die Nyl

Nog ʼn manier om die mag van Egipte te breek, is om die Nyl te laat opdroog. Wanneer dit gebeur, kan geen graan of vlas geplant word nie, en geen vis kan gevang word nie. In die oordeelsprofesie oor Egipte in Jesaja 19:5-8 word daar dus aangekondig dat die water in die Nyl gaan opdroog (sien ook Esegiël 30:12).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS