Bible Society of South Africa

Mossie

ʼn Mossie is ʼn klein voëltjie wat ook algemeen in bybelse tye voorgekom het. Mossies is gevang en dan op die mark verkoop. ʼn Mens kon ʼn paar mossies vir ʼn klein bedraggie koop om te eet.

Naby mense

Mossies hou graag naby mense. Hulle bou normaalweg hul neste in ʼn holte in ʼn muur. Psalm 84:4-5 beskryf ʼn mossie wat ʼn nes bou in die altaar in die tempel. Net soos die mossies, wil die psalmdigter naby God in die heiligdom wees.

Mossies as kos

Mossies het algemeen voorgekom in die tyd van die Bybel. Volgens die wet van Moses is hierdie voëls as kos toegelaat. Mossies was waarskynlik goedkoop kos omdat hulle maklik gevang kon word.

Mossies kom in swerms voor en is lewendig in ʼn wip gevang (Amos 3:5; Psalm 124:7). Die voëlvangers het die voëls dan na die mark geneem om as kos te verkoop.

Meer werd as ʼn swerm mossies

In die Nuwe Testament kry ons die beeld van mossies wat op die mark verkoop word. Jesus sê vir sy dissipels: “Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie” (Matteus 10:29).

As God so goed kan sorg vir ʼn klein voëltjie wat so min werd is, sal Hy sekerlik goed omsien na mense, wat meer werd is as ʼn hele swerm mossies.

Voëlmis

In die Deuterokanonieke boek Tobit speel die mossie ʼn negatiewe rol. Mossiemis val in Tobit se oë (Tobit 2:10), wat ʼn wit vlies oor sy oë vorm en hom uiteindelik blind laat.

Gelukkig ontmoet Tobit se seun, Tobias, die engel Rafael wat vir Tobias vertel wat hom te doen staan sodat die wit vlies kan verdwyn en sy vader sy sig kan herwin.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS