Bible Society of South Africa

Jordaan

Die Jordaan is ʼn rivier wat vanaf die Hermonberg na die Dooie See vloei. In Ou Testamentiese tye het die Jordaan die grens tussen die land Kanaän en die Transjordaan gevorm. Uit die Nuwe Testament ken ons die Jordaan veral as die rivier waarin Johannes die Doper vir Jesus gedoop het.

Loop van die rivier

Die oorsprong van die Jordaan is in die Hermonberg in die noorde van Israel op ʼn hoogte van 1 800 meter. Via die See van Galilea loop die rivier na die Dooie See in die suide op ʼn hoogte van 400 meter onder seevlak. In die gebied tussen die See van Galilea en die Dooie See kry die Jordaan die meeste van sy water uit die sytakke van die Jabbok en die Jarmuk.

Oorsteek van die Jordaan

Die lengte van die Jordaan van begin tot einde is ongeveer 170 kilometer soos die voël vlieg. Eintlik is die rivier twee maal so lank as gevolg van die manier waarop dit kronkel. Op baie plekke is die Jordaan net ʼn paar meter breed. Daarom was dit in bybelse tye waarskynlik nie so moeilik om die rivier oor te steek nie.



In die lente was dit wel moeilik, want die Jordaan het sy oewers oorstroom wanneer die sneeu gesmelt het (Josua 3:15; 1 Kronieke 12:15). As gevolg hiervan was die land by die rivier baie vrugbaar en ryk aan flora en fauna (Genesis 13:10; Jeremia 49:19).

Grensrivier

Die Jordaan het die natuurlike grens tussen die land Kanaän en die Transjordaan gevorm. Toe die beloofde land verdeel is, is ʼn duidelike onderskeid getref tussen die stamme aan beide kante van die rivier (Numeri 32:19-22).



Ons sien hierdie onderskeid weer in die verhaal in Rigters 12 wat handel oor die oorlog tussen die Gileadiete aan die oostelike kant van die Jordaan en die Efraimiete aan die westekant van die Jordaan. Die Gileadiete het almal wat die Jordaan wou oorsteek, die woord sjibbolet laat sê. Die Efraimiete kon nie die sj-klank reg uitspreek nie en het sibbolet gesê. Dit het hulle onmiddellik uitgewys as vyande (Rigters 12:5-6).

Johannes die Doper

Die Jordaan is veral bekend uit die Nuwe Testament as die rivier waarin Johannes die Doper mense gedoop het wat ʼn nuwe lewe wou begin. Jesus is ook deur Johannes in die Jordaan gedoop (Markus 1:4-11).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS