Bible Society of South Africa

Hond

Waghonde en skaaphonde was baie waardevol in Ou Israel. Straathonde en rondloperhonde is egter as vuil en ʼn oorlas beskou. Die woord “hond” het daarom dikwels ʼn negatiewe konnotasie in die Bybel.

Troeteldier

Sedert menseheugenis was die hond ʼn nuttige dier vir mense. Groot honde is as waghonde gebruik, byvoorbeeld om die poorte van die stad te bewaak (Jesaja 56:10). Reisigers het ʼn hond saamgeneem om roofdiere af te weer (Tobit 6:1-2). By die oppas van ʼn kudde diere het honde ook ʼn nuttige rol vervul (Judit 11:19). Klein hondjies en skoothonde is ook tuis aangehou (Matteus 15:26).

Losloperhonde

In die strate van stede, dorpies en klein nedersettings was losloperhonde ʼn alledaagse gesig. Hulle het saans rondgeloop op soek na kos (Psalm 59:15) en was nie baie kieskeurig nie: hulle het huishoudelike afval geëet wat mense in die strate gegooi het (daar was in daardie stadium nog nie afvalverwyderingsdienste nie). Maar hulle het ook onrein vleis (Eksodus 22:30), braaksel (Spreuke 26:11) en die stoflike oorskot van mense en diere (1 Konings 16:4) geëet.

Losloperhonde het die bloed van dooies en gewondes gelek (1 Konings 22:38). Hulle het die swere van bedelaars gelek (Lukas 16:21) en hulle het gewag totdat iemand gesterf het, sodat hulle hom kon verslind (Psalm 22:17). Toe koningin Isebel tereggestel is, het die straathonde haar heeltemal opgevreet. Net haar skedel, haar hande en haar voete het oorgebly (2 Konings 9:35).

Skelwoord

As gevolg van hulle smerige eetgewoontes het straathonde ʼn slegte reputasie in die Bybel gehad. Hulle is beskou as minderwaardige wesens. Daarom het die woord “hond” ʼn negatiewe konnotasie verkry. Mense wat ʼn houding van onderworpenheid ingeneem het, het hulleself ʼn “hond” (2 Konings 8:13, 1933/1953-vertaling) of ʼn “dooie hond” (1 Samuel 24:15) genoem.

Die woord “hond” word ook as ʼn skelwoord in die Bybel gebruik. Na mense op wie neergesien word, word verwys as “honde” of “dooie honde” (1 Samuel 17:43; 2 Samuel 16:9, 1933/1953-vertaling). Paulus noem sy teenstanders in die gemeente in Filippi “honde” (Filippense 3:2, 1933/1953-vertaling).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS