Bible Society of South Africa

Hinnomdal

Daar word op verskillende maniere na die Hinnomdal in die Ou Testament verwys: die Hinnomdal en die Ben Hinnomdal (“die seun van Hinnom”). Hierdie name verwys na die oorspronklike eienaars van die vallei, die Hinnom-familie.

Begraafplaas

Daar is gewoonlik aanvaar dat die vallei aan die ooste van Jerusalem geleë was, maar sedert die 19de eeu word die opvatting gehuldig dat die Hinnomdal aan die suidweste kant van bybelse Jerusalem, buite die stadsmure van daardie tyd, geleë was.
Die Hinnomdal het — waarskynlik sedert die tyd van koning Hiskia — gedien as ʼn plek om dooies te begrawe. Argeologiese opgrawings dui dit aan. Onder andere is familiegrafte, wat vir eeue in gebruik was, hier gevind.

 

Offers aan Molek

Die Hinnomdal het ʼn baie slegte reputasie in bybelse tye gehad omdat ʼn vorm van aanbidding plaasgevind het wat die verontwaardiging van Bybelskrywers tot gevolg gehad het. Hierdie kultus word met die naam “Molek” in verband gebring.
Die presiese aard van hierdie kultus is omstrede, net soos die naam Molek self. Molek kon oorspronklik ʼn naam van ʼn ritueel gewees het waarin kinders geoffer is, net soos in Kartago. Die Bybelskrywers het Molek egter as die naam van die god van die Ammoniete verstaan (1 Konings 11:7).
Die gebruiklike beskrywing van die ritueel is “sy seun of dogter as offer vir Molek … verbrand” (2 Konings 23:10). In daardie geval sou dit beteken dat kinderoffers na die verbrandingsplek, Tofet, op die terrein van die begraafplaas in die Hinnomdal, gebring word.

 

Koning Josia

Koning Josia het teen die kultus opgetree deur die offerplek te ontwy (2 Konings 23:10). Dit het klaarblyklik ʼn blywende uitwerking gehad, aangesien die profete Jeremia en Esegiël steeds hewig gekant was teen die kinderofferkultus (byvoorbeeld Jeremia 7:31-32 en Esegiël 23:37-39).
Ná die val van Jerusalem in 586 v.C. is daar geen verdere vermelding van hierdie soort offers nie, maar die herinnering daaraan duur voort.

 

Gehenna

As gevolg van die negatiewe betekenis wat die Hinnomsdal in die Ou Testament verkry het, is die verkorte Aramese vorm van die naam (“Gehenna”) in die Hellenistiese periode gebruik as ʼn verwysing na die hel. Dit gebeur, byvoorbeeld, in die Apokriewe boek Henog. Die verwysing na “Gehenna” kom ook in die Nuwe Testament voor, byvoorbeeld in Markus 9:43. (Dit kom wel in die Grieks voor, maar nie in die Afrikaanse vertalings nie). In daardie tyd was Gehenna aan die oostekant van Jerusalem geleë, in die omgewing van die Olyfberg. Dit is later ook deur Islam oorgeneem.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS