Bible Society of South Africa

Graanoes

In bybelse tye was koring en gars die belangrikste gewasse in Israel. Lente en vroegsomer was oestyd. Die gars het eerste, reeds in April, ryp geword. Die koring het ʼn paar weke later in Junie gevolg.

Maai

Die graankorrels was in are aan die punt van lang stingels. Gedurende die oes is die stingels met ʼn sekel, ʼn krom metaalmes, afgesny. Die boer het ʼn bondel are met die een hand gevat en hulle met die ander hand afgesny. In werklikheid is die stingels eerder uitgetrek as afgesny.

Van die afgesnyde stingels is ʼn bondel gemaak, ʼn koringgerf. Dit was makliker om ʼn gerf op te tel as die los stingels. Die gerwe is regop bymekaar gesit, sodat die are nie op die grond lê nie. Indien dit op die grond sou lê, kon die koringkorrels klam word en verrot.

Are optel

Ná die oes is die koringgerwe na die dorsvloer gebring. Op pad na die dorsvloer sou sommige van die stingels met koringare altyd op die grond val. Volgens die Israelitiese wet is arm mense, soos weduwees, toegelaat om die stingels bymekaar te maak en vir hulle te vat (Levitikus 19:10; Levitikus 23:22). Dit word “are optel” genoem.

Die weduwee Rut is toegelaat om koringare op te tel op Boas se land, in die omgewing van Betlehem.

Dors

Tydens die dors is die koringkorrels van die are geskei deur middel van ʼn dorsslee of diere wat die graan getrap het.

Die dorsslee was ʼn breë houtplank wat deur ʼn os oor die kringare getrek is. Die boer self sou dikwels op die dorsslee sit of staan, sodat dit nog stewiger op die koringare afdruk.

Uitwanning

Nadat die koring gedors is, is die kaf en die koring met ʼn wan geskei. Die boer het die mengsel van kaf en koring in die lug opgegooi sodat die wind die ligte stof en die kaf wegwaai. Die swaarder koringkorrels en die strooi het weer op die grond geval.
Daarna is die koring gesif om enige klein klippies tussen die koringkorrels te verwyder. Dit is met ʼn ronde sif gedoen.

Verwante Bybelgedeeltes

LEVITIKUS 19.9 LEVITIKUS 23.22

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.8
VOLG ONS