Bible Society of South Africa

Boog en pyl

ʼn Boog en pyl was ʼn wapen wat algemeen in antieke tye gebruik is. Dit was ʼn ligte wapen en daarom maklik om te dra. Nog ʼn voordeel was dat ʼn mens die vyand oor ʼn afstand kon tref.

Gebruik van boog en pyl

Boë is deur voetsoldate gebruik, maar ook deur soldate in strydwaens. Die verdedigers van ʼn stad het ook gereeld pyle na aanstormende vyande geskiet. Soms was dit brandende pyle wat stormramme en ander beleëringswapens van hout aan die brand kon steek.

Soorte boë

Oorspronklik was boë driehoekig en uit een stuk hout gevorm.

Die Mesopotamiërs het eerste die saamgestelde boog gebruik. Dit is uit lae hout, wat aanmekaar gegom is saam met stukkies horing, gemaak. Dit was ongeveer 0,7 tot 1 meter lank. Die snaar is van dieresenings of linne gemaak. Hierdie tipe boog was kragtiger en kon verder skiet. Dieselfde saamgestelde boog is ook in Israel en die omliggende lande uit die laat Bronstydperk (1550-1200 v.C.) gebruik.

Pyle

Die pylpunt is uit klip of metaal gemaak, dikwels brons of yster, met drie lemme en soms ʼn weerhaak. Die skag van die pyle is gemaak van hout of riet. Aan die agterkant is vere vasgemaak, met ʼn keep waarmee die pyl op die snaar van die boog in sy plek gehou is.

Pylkoker

Boogskutters het hul pyle in ʼn pylkoker van leer gehou. Die pylkoker was silindries en ʼn bietjie korter as die pyle, sodat hulle maklik uitgehaal kon word. Daar het ongeveer 20 tot 30 pyle in die pylkoker gepas, wat met ʼn leerband oor die boogskutter se rug gedra is.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS