Bible Society of South Africa

Herder se toerusting

ʼn Herder was dikwels vir ʼn lang tyd buite in die veld met sy kudde, ver weg van bewoonde gebiede. Dit was daarom belangrik om goed toegerus te wees.

Kleredrag

Herders het ʼn lang onderkleed met ʼn gordel om die middel gedra. Daar bo-oor is ʼn dik mantel, soms van kameelhaar geweef, gedra. Dit was veral snags nodig, omdat dit buite in die veld baie koud kon word. ʼn Gewone serp wat met ʼn tou of band om die kop vasgebind is, het hulle gesigte bedags teen die helder son beskerm.

Herder se staf

ʼn Herder se staf het bestaan uit ʼn lang, reguit stok met ʼn gekromde punt. Die staf het hoofsaaklik gedien as ʼn “wandelstaf” vir die herder om sy togte deur die heuwelagtige of ruwe landskap te vergemaklik. Daarbenewens het die herder sy staf gebruik om die skape vorentoe te dryf en om hulle bymekaar te hou (Miga 7:14), of om hulle van gevaarlike plekke af weg te trek. Laastens het die herder sy staf gebruik om die skape te tel: hy sou die skape een vir een onder sy staf by die skaapkraal laat ingaan (Levitikus 27:31-33; Esegiël 20:41).

Wapens

Om sy kudde teen wilde diere, soos hiënas en jakkalse te beskerm, het die herder ʼn herderstok saamgedra. Dit was ʼn swaar knuppel wat uit ʼn dik tak gemaak is. Aan die punt van die stok was ʼn knop met skerp vuurklippe daaraan vasgemaak. Die stok is aan die herder se gordel gedra.

Nog ʼn deel van die herder se arsenaal was ʼn slingervel. Die slinger is nie net gebruik om wilde diere weg te jaag nie, maar ook om die skape bymekaar te maak. Die herder sou ʼn klip net voor ʼn skaap gooi wat begin wegdwaal, om dit na die kudde te laat terugdraai.

Persoonlike besittings

Die herder se sak was ʼn sakkie van leer of materiaal, waarin die herder sy persoonlike besittings en proviand gehou het. Die sak is oor die skouer gedra of aan die gordel om sy middel vasgemaak. Toe Dawid teen Goliat geveg het, was sy herdersakkie (1983-vertaling: “slingersak”) vol klippies vir sy slingervel (1 Samuel 17:40).

Die herder het altyd ʼn horing vol olyfolie in sy sak gehad om enige wonde wat die skape kon opdoen, te behandel. Baie herders het ook ʼn fluit gehad wat hulle gespeel het om die skape rustig te stem. ʼn Herdersfluit is uit twee hol stukke riet gemaak. Die herder se fluit word in Rigters 5:16 genoem.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS