Bible Society of South Africa

Eetgerei van klip

Klipkanne is gebruik om water te stoor. Dit is gewoonlik uit kalksteen gemaak. Die vorm is met ʼn hamer en beitel uitgekap en daarna is die oppervlak glad geskuur. Klipborde en koppies is ook gevind, veral uit die Tweede Tempelperiode.

Klip en reinheid

Volgens verskeie Joodse rabbynse tradisies was daar ʼn verband tussen die gebruik van klip en rituele reinheid. Wanneer erdepotte onrein geword het, moes hulle volgens die wet (Levitikus 11:33) gebreek word. Maar klipkanne kon nie onrein word nie. Verder kon water in ʼn klipkan gesuiwer word. Dit is waarskynlik waarna die “rituele reiniging” in Johannes 2:6-7 verwys. In die verhaal oor die troue in Kana staan daar: “Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou. Jesus sê toe vir die kelners: ‘Maak die kanne vol water.’ ”

Klipkanne in die Tweede Tempelperiode

In die eerste eeu n.C. was daar baie werkswinkels, veral rondom Jerusalem, waar eetgerei van klip gemaak is. Oënskynlik was dit veral op daardie tydstip baie gesog. Dit is omdat die Joodse reinheidswette in die Tweede Tempelperiode so streng geïnterpreteer is. Klipvoorwerpe kon nie onrein word nie, terwyl erdevoorwerpe wat onrein geword het, stukkend gegooi moes word.



ʼn Voorwerp wat algemeen voorgekom het was ʼn soort groot beker met handvatsels. Dit is nie bekend waarvoor hierdie bekers gebruik is nie. Dalk was hulle bloot net om uit te drink, maar dit is ook moontlik dat hulle vir ʼn reinigingsritueel gebruik is, soos om hande te was.



Eetgerei van klip was ook gewild omdat dit duursamer as erdewerk was. Dit was egter ook baie duurder. Ryker mense kon eetgerei van klip bekostig. Klipborde en -bakkies uit die eerste eeu n.C. is gevind wat namaaksels blyk te wees van ingevoerde geglasuurde of silwerborde.



 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS