Bible Society of South Africa

Kandelaar

Die kandelaar of menorah was ʼn staander waarop een of meer olielampe geplaas kon word.

Die woord menorah laat mens hedendaags dink aan die sewearmige lampstaander wat ʼn belangrike simbool in Judaïsme is. Maar in die Bybel word die woord nie net gebruik vir die kandelaar in die tabernakel en die tempel nie. In die verhaal van Elisa en die vrou van Sunem in 2 Konings 4:10 staan daar byvoorbeeld: “Kom ons bou ʼn klein bovertrekkie en sit vir hom ʼn bed, ʼn tafel, ʼn stoel en ʼn lamp daarin. Wanneer hy by ons aankom, kan hy daar intrek.” Ons weet ook nie vir seker hoe die kandelaar in die tempel van Salomo gelyk het nie.

Sewearmige kandelaar

Eksodus 37:17-24 beskryf die kandelaar in die tabernakel: ʼn goue kandelaar met een middelste arm en drie arms aan elke kant. In totaal kon dit sewe klein olielampies hou. Dit is die bekendste vorm van die sewearmige kandelaar.

Op die boog van Titus in Rome, ʼn triomfboog wat na die verwoesting van die tempel van Herodes in Jerusalem in 70 n.C. opgerig is, is daar ʼn reliëf wat uitbeeld hoe die sewearmige kandelaar by die tempel uitgedra word. In die tyd na die verwoesting van die tempel, is die menorah dikwels uitgebeeld, byvoorbeeld op die mosaïekvloere van sinagoges of op grafstene. Die oudste bekende uitbeelding van ʼn sewearmige kandelaar is op ʼn bronsmunt uit die eerste eeu v.C.

Kandelare in die tempel van Salomo

Volgens 1 Konings 7:49 was daar tien goue kandelare in die tempel van Salomo: “die kandelaars van suiwer goud, vyf regs en vyf links voor die binneste heiligdom; die blomkelke, die lampe en die goue pithouers”. Dit is spesifiek vir die tempel van Salomo gemaak. Hoe hulle presies gelyk het, kan nie uit die teks in 1 Konings vasgestel word nie. Daar is egter ʼn beskrywing in Sagaria 4:2: “ʼn kandelaar, heeltemal van goud; bo-op is ʼn oliebak met sewe tuite en sewe lamppitte in elkeen”.

Argeoloë het verskeie voorbeelde van kandelare met ʼn bak bo-op gevind. Verskeie erdewerk-olielampe met sewe tuite vir lamppitte is ook gevind, en daarom is dit sekerlik moontlik dat die kandelare in die tempel van Salomo soos die beskrywing van Sagaria gelyk het.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.8
VOLG ONS