Bible Society of South Africa

Hoofpaaie

Die Israeliete het in ʼn strategiese area gewoon — tussen Egipte en die Rooisee in die suide, die koninkryke van Mesopotamië en Sirië in die noorde en ooste, en die Middellandse See in die weste. Daar was dus vanaf die vroegste tye paaie wat deur die land geloop het wat baie belangrik was vir internasionale handel, en vir ʼn politieke en militêre skakel tussen die groot moondhede in die Nabye Ooste.

Kusweg of Via Maris

Die kusroete het vanaf Egigte langs die kus na die noorde geloop. Hierdie roete het in die Jisreëlvallei verdeel: ʼn deel daarvan het langs die kus na die noorde in die rigting van Fenesië geloop, en die ander deel het via Galilea en Hasor in die rigting van die Libanonvallei geloop.

Ons weet nie presies wat hierdie pad in die oudheid genoem is nie. In Eksodus 13:17 lees ons van “die pad na die land van die Filistyne”. Dit kan ʼn verwysing wees na die suidelike deel van die kusroete.

Die Koningspad

Die Koningspad (Numeri 20:17; Numeri 21:22) het vanaf Elat (geleë) aan die Dooiesee, oos langs die Jordaanrivier na die noorde deur Edom, Moab, Ammon, Gilead en Basan, in die rigting van Damaskus geloop. In Deuteronomium 3:1 en Numeri 21:33 word die pad “in die rigting van Basan” vermeld. Dit was waarskynlik deel van die Koningspad.

Die Woestynpad

Parallel aan die Koningspad, ʼn ent verder na die ooste toe, was daar waarskynlik ʼn ander pad wat bekend gestaan het as die “Woestynpad”. Dit kan die pad wees waarna Deuteronomium 2:8 verwys. Toe die Israeliete deur die Edomiete verbied was om die Koningspad te gebruik, moes hulle ʼn ompad neem wat moontlik die “Woestynpad” was. In Numeri 20:19-21 word dit die “grootpad” genoem.

Nasionale hoofweg

ʼn Vierde belangrike roete het van noord na suid deur die heuwels van Israel en Juda geloop. Hierdie pad het van die Jisreëlvallei via Sigem na Jerusalem geloop en verder suid deur Betlehem en Hebron. Dit kan die pad wees wat in Rigters 21:19 vermeld word: “die grootpad van Bet-El af Sigem toe”.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.8
VOLG ONS