Bible Society of South Africa

Kleistene

In die Ou Nabye Ooste is kleistene dikwels as boumateriaal gebruik.

Metode

Kleistene is uit gedroogde leemgrond gemaak. In teenstelling met gewone stene is kleistene nie in ʼn oond gebak nie. Gebakte stene is nie voor die Romeinse tyd in Ou Israel gebruik nie.

Om kleistene te maak, was nie so moeilik nie. Dit het nie geskoolde arbeiders vereis nie en die materiaal was nie duur nie. Die proses om kleistene te maak was egter baie arbeidsintensief. Dit was tydrowend en was harde werk.

Leem

Kleistene is van leem gemaak: ʼn mengsel van klei, sand en strooi of kaf. Die vars klei is uit die rivier of ʼn droë rivierloop (vadi in Hebreeus) gehaal. Sand is gebruik om die klei minder vetterig te maak. Die strooi was ʼn belangrike bestanddeel: dit het verhoed dat die klei krimp en bars terwyl dit droog geword het en het die steen versterk.

Die maak van kleistene

Die mengsel van klei, sand en strooi is soms vir vier volle dae met die voete getrap om ʼn goeie mengsel te verkry. Volgende moes die mengsel vir ʼn paar dae rus. Dan is dit weer gebrei. Laastens is die leem in houtvorms gedruk om dit tot reghoekige stene te vorm. Die proses word in Nahum 3:14 beskryf: “Spring in die modder, trap dit tot klei, gryp die steenvorm!”

Die stene is dan uit die vorm gehaal en in die son geplaas om te droog. Na omtrent ʼn week was die kleistene gereed vir gebruik.

Eksodus 5

Eksodus 5:6-18 verduidelik hoe die Israeliete stene moes maak vir die farao in Egipte. Om hulle te straf, het die farao beveel dat hulle nie meer strooi vir die stene sou kry nie, wat beteken het dat hulle dit self moes vind. Dit het baie tyd in beslag geneem, veral aangesien strooi slegs geredelik beskikbaar was tydens die tydperk net na die graanoes.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.10
VOLG ONS