Bible Society of South Africa

Harnas

Wanneer harnas in die Bybel genoem word, verwys dit nie na die harnas wat die hele liggaam bedek nie. Harnas in die Bybel is ʼn borsharnas of skubharnas.

Israelitiese soldate het gewoonlik geen harnas gedra nie, net ʼn skild om hulle liggame te beskerm. In die Bybel word ʼn harnas hoofsaaklik deur konings en leëraanvoerders gedra.

Borsharnas

ʼn Borsharnas is uit stroke leer of metaal gemaak. Aan die voorkant is hulle aan mekaar geheg en dan met bande oor die skouers vasgemaak. Dit beskerm die borskas.

Die borsharnas kom oorspronklik van Griekeland af. Ons weet op grond van afbeeldings dat die Seevolke, wat waarskynlik die Filistyne ingesluit het, borsharnasse gedra het. Hulle het waarskynlik hierdie tipe harnas na Israel toe gebring.

Skubharnas

ʼn Skubharnas was ʼn leervoorskoot waaraan klein metaalplaatjies vasgeheg was wat met mekaar oorvleuel het. Dit was ligter en meer hanteerbaar as ʼn borsharnas, wat soldate meer vrylik kon laat beweeg. ʼn Skubharnas was veral belangrik vir boogskutters of strydwadrywers, aangesien hulle nie hande vry gehad het om hulself met ʼn skild te beskerm nie.

ʼn Skubharnas was al in die vyftiende eeu v.C. in Egipte in gebruik. Die Assiriërs het ook van skubharnasse gebruik gemaak.
1 Konings 22:34 beskryf hoe koning Agab van Israel gesneuwel het deur ʼn pyl wat hom tussen die skubbe van sy harnas tref. Dit kon dalk in sy armholte gewees het, wat ʼn bekende swak punt in skubharnasse is.

Harnas as metafoor

By ʼn paar geleenthede in die Bybel word die harnas as ʼn metafoor gebruik, byvoorbeeld vir God se geregtigheid. Jesaja 59:17 stel dit so: “Hy trek geregtigheid aan soos ʼn pantser en redding is die helm op sy kop”. In 1 Tessalonisense 5:8 word die harnas gebruik as ʼn beeld vir Christene wat hulleself vir die koms van Christus voorberei deur die dra van “geloof en liefde as borsharnas”.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.10
VOLG ONS