Bible Society of South Africa

Die noordelike ryk van Israel

Die noordelike ryk van Israel is die naam wat gegee is aan die gebied wat aan die tien noordelike stamme van Israel behoort het. Die noordelike ryk het na die regering van Salomo ontstaan, omstreeks 926 v.C. Daar was dikwels spanning tussen die noordelike ryk van Israel en die suidelike ryk van Juda. In 722 v.C. het die Assiriërs die hoofstad van Samaria verower, en ʼn einde gebring aan die noordelike ryk.

Die ontstaan van die noordelike ryk

Die koninkryk van Salomo was ʼn eenheidstaat met gesentraliseerde mag wat nie die verskille tussen die verskeie stamme in ag geneem het nie. Na Salomo se dood wou die noordelike stamme meer onafhanklikheid hê. Jerobeam het daarin geslaag om die weerstand teen Salomo se seun, Rehobeam, te konsolideer, met die gevolg dat die tien noordelike stamme hulle van die bondgenootskap gedistansieer het. Die nuwe staat waarvan Jerobeam koning was, word in die Bybel “Israel” genoem. Die gebied waar Rehobeam sy heerskappy voortgesit het, word “Juda” genoem.
Jerobeam het probeer om die aanvalle deur Rehobeam op ʼn politieke wyse af te weer en om aan Israel sy eie identiteit te gee wat nie van Jerusalem afhanklik sou wees nie. Hy het die laasgenoemde probeer deur goue kalwers in die stede van Bet-El en Dan op te rig.

Ekonomies-gunstig geleë

Vergeleke met Juda was Israel ekonomies sterker en het ʼn belangrike rol in internasionale politiek gespeel omdat die kommunikasieroetes tussen Egipte en Mesopotamië deur Israel se gebied geloop het.
Dit was hoofsaaklik onder koning Omri, die stigter van die stad Samaria, dat Israel ʼn bloeitydperk beleef het. Tydens die regering van sy seun, Agab, en gedurende die regering van Jerobeam II, was daar voorspoed, ondanks voortdurende konflikte met die buurland Aram (1 Konings 20:1-43; 1 Konings 22:1-40; 2 Konings 14:23-29). Een van die probleme was dat die koningshuise wat oor Israel regeer het, nie almal ewe stabiel was nie.

Die val van die noordelike ryk

Die gunstige ligging van die gebied vir handel was ʼn strategiese voordeel. Vir die groot magte was ʼn onafhanklike Israel nie gewens nie. Die Assiriërs het die grootste bedreiging vir Israel ingehou. Die Assiriese koning, Tiglat-Pileser III, het die noordelike ryk in 732 v.C. ʼn vasalstaat van Assirië gemaak (2 Konings 15:29).
Hierdie situasie het nie lank geduur nie aangesien koning Hosea van Israel ʼn bondgenoot van Egipte geword het. In 722 v.C. het die Assiriërs die hoofstad, Samaria, verower en die inwoners weggevoer. Dit het die einde van die noordelike ryk beteken.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.8
VOLG ONS