Bible Society of South Africa

Ammon en Ammoniete

Die Ammoniete was die inwoners van die koninkryk van Ammon wat ten ooste van Israel geleë was, met Rabbat-Ammon as die hoofstad. Die Ammoniete was verwant aan die Israeliete en hulle taal het nie soveel van Hebreeus verskil nie. Hulle het met die Israeliete slaags geraak, wat daartoe gelei het dat hulle nie so ʼn goeie reputasie in die Bybel het nie. In Genesis 19:30-38 word byvoorbeeld die verhaal vertel van hulle patriarg, Ben-Ammi, wat uit bloedskande tussen Lot en een van sy dogters verwek is.

Ontstaan van Ammon

Toe die Seevolke omstreeks 1200 v.C. die wankelrige balans in Wes-Asië versteur het, het die Ammoniete die kans waargeneem om hulle eie koninkryk te vestig. Die hoofstad, Rabbat-Ammon, het reeds in die Kanaänitiese tydperk bestaan.

Konflik met die Israeliete

Die Bybel maak van verskeie konflikte tussen Ammon en Israel melding. Die Ammoniete het probeer om Gilead te verower, maar die Israeliete het dit as hulle geboortereg beskou.

Die rigter Jefta het daarin geslaag om die Ammoniete te oorwin (Rigters 10:6 – 11:36). Saul het ook teen die Ammoniete geveg toe hulle die Israelitiese stad Jabes in Gilead beleër het (1 Samuel 11:1-11). Dawid het die Ammoniete oorwin (2 Samuel 10). Hulle het later hulle onafhanklikheid herwin.

Profesieë teen Ammon

Hoe intens die haat tussen die twee nasies was, kan gesien word uit die profesieë teen Ammon wat in die Ou Testament gevind kan word (Jesaja 11:14; Jeremia 49:1-6; Esegiël 25:1-7; Amos 1:13-15; Sefanja 2:8-9). Dit is verder duidelik uit die verbod teen die insluiting van die Ammoniete in die Here se gemeente (Deuteronomium 23:3; Nehemia 13:1).

Latere geskiedenis van Ammon

Die Assiriese koning, Tiglat Pileser III, het Ammon in 734 v.C. in ʼn vasalstaat omskep. Ná die val van die Assiriese ryk het Ammon skatpligtig geword aan Babilonië. In 582 v.C. is dit deur die Babiloniërs geannekseer. Ammon het ʼn vae rol in die val van die koninkryk van Juda gespeel (Jeremia 41:10-15).

Die Ammoniete het as ʼn nasie in die Persiese asook die Hellenistiese era bly voortbestaan. Hulle het vyande van die Jode gebly, soos duidelik geblyk het in die tyd van Nehemia (Nehemia 4:1-2) en die Makkabese opstand (1 Makkabeërs 5:6-7).

In die Romeinse era het die hoofstad, Rabbat-Ammon, wat toe al tot Filadelfia herdoop is, tot die Dekapolis behoort. In 106 n.C. is die gebied by die provinsie van Arabië ingelyf. Ammon het sodoende tot ʼn besliste einde gekom, maar die naam het bly voortleef in die naam van die hedendaagse hoofstad van Jordanië: Amman.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.17.10
VOLG ONS