Bible Society of South Africa

Godsdienste in die oudheid

Die Bybel verwys dikwels na die godsdienste van ander volke, soos die Kanaänitiese, Mesopotamiese en Egiptiese godsdienste. Die godsdienste het van mekaar verskil, maar hulle het ook ʼn aantal gemeenskaplike kenmerke gedeel:

  1. 1.Hulle was politeïsties.
  2. 2.Hulle het op die hier en nou gefokus.
  3. 3.Hulle was nie ingestel op die regte leerstelling nie, maar op die regte godsdienstige handelinge.
  4. 4.​Hulle het elkeen hulle eie mitologie gehad.

Politeïsme

Meeste godsdienste in die oudheid was politeïsties. Politeïsme behels die aanbidding van verskeie gode. Saam het hierdie gode gesorg vir wêreldorde, die natuur en die kosmos as geheel.

Ander kenmerke van politeïsme was:

  • Die godsdiens was plaaslik van aard. ʼn God was nie oral dieselfde nie, maar is op verskillende maniere in verskillende stede uitgebeeld en aanbid.
  • Daar was nie ʼn oorkoepelende organisasie met ʼn vasgestelde leerstelling nie. Rituele (offers, optogte en feeste) het oral hulle eie spesiale kenmerke gehad.
  • Die wêreld van die gode was oop en nie afgebaken nie: indien nodig kon nuwe gode bygevoeg word.

Politeïsme is die teenoorgestelde van monoteïsme — die aanbidding
van een God.

Godsdiens gerig op die hier en nou

Godsdiens was bedoel om die lewe hier en nou beter en draagliker te maak. Dit het nie gegaan oor ʼn ideale manier om met mekaar oor die weg te kom, of oor hoop op ʼn ideale wêreld nie.

Die regte godsdienstige optrede

In antieke godsdienste het dit nie gegaan oor “ware leer” nie, maar oor die regte godsdienstige optrede. In die alledaagse lewe van die stad het die kultus van die gode ʼn belangrike rol gespeel. Die gode moes behoorlik versorg word; hulle het die beste kos en drank en die mooiste geskenke gekry. Mense het dus hulle bes gedoen om die gode gelukkig te hou. Die instandhouding van die kultus — of die versorging van die gode — was ʼn baie belangrike taak vir mense.

Mitologie

Daar was verhoudings tussen die gode: hulle is vader en seun, man en vrou, broer en suster. Die onderlinge verhoudings kom na vore in mites (verhale oor die gode). Hierin word die gode, enersyds, op ʼn menslike manier beskryf: hulle word deur liefde, woede of jaloesie gedryf, en is ingestel op oorlog en mag. Maar die skaal waarop alles afspeel, is bomenslik: die gode in die mites word eintlik as supermense uitgebeeld.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.8
VOLG ONS