Bible Society of South Africa

Hoëpriester: Kleredrag

Die hoëpriester het spesiale gewade gedra wanneer hy sy amp vervul het. Onder hierdie klere het hy gewone priesterlike klere gedra.

Gewone priesterlike klere

Die hoëpriester het altyd dieselfde klere as ʼn gewone priester gedra:

  • kort linnebroek;
  • ʼn linnetuniek;
  • ʼn geborduurde gordel van fyn linne en blou en rooi wol.

Spesiale kleredrag

Wanneer die hoëpriester amptelik opgetree het, het hy die volgende klere en toebehore gedra:

  • ʼn Lang blou wol bokleed. Die bokleed het ʼn soom gehad wat met granate borduur is en klein klokkies. Die soom was van dieselfde tipe wol as die gordel van die gewone priesterdrag.
  • ʼn Priestersvoorskoot (in sommige vertalings ʼn “efod” genoem). Dit was van fyn linne gemaak, drie kleure wol en goue garing. Daar was twee gegraveerde edelstene van oniks in ʼn goue montering op die skouers. Op die stene is die name van die twaalf stamme van Israel gegraveer.
  • ʼn Borssak. Hierdie vierkantige sak het die orakelstene bevat. Die borssak is ook van goue gare, blou en rooi wol en fyn linne gemaak. Twaalf edelstene was aan die buitekant van die sak in vier rye van drie elk vasgeheg. Die eerste ry was saamgestel uit ʼn robyn, ʼn topaas en ʼn smarag. Die tweede ry het ʼn granaat (granaatsteen), ʼn saffier en ʼn akwamaryn (beril) bevat. Die derde ry was saamgestel uit ʼn amber, ʼn agaat en ʼn ametis. Die vierde ry het bestaan uit ʼn turkoois, ʼn oniks en ʼn jaspis. In elke steen is die naam van een van die twaalf stamme van Israel gegraveer.
  • ʼn Tulband. Die tulband is ook van fyn linne gemaak.
  • ʼn Plaat. ʼn Plaat of tiara van suiwer goud met die woorde “Aan die Here toegewy” daarop, is aan die voorkant van die tulband vasgemaak. Die plaat is met ʼn tou van blou wol vasgemaak.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS