Bible Society of South Africa

Gerub

Gerubs word in die Ou Testament beskryf as hemelse wesens met vlerke. Hulle het die lyf van ʼn leeu en die kop van ʼn mens. In Esegiël is hulle wesens met vier vlerke en vier verskillende gesigte.

Die belangrikste funksie wat gerubs vervul, is om die troon van God te dra.

Watter vorm neem hulle aan?

In die Bybel kom gerubs voor as beelde of figure, maar ook as lewende wesens:

  • Afbeeldings van gerubs is in die gordyne wat in die tabernakel gehang het, ingeweef (sien Eksodus 26:1).
  • Bo-op die verbondsark was daar houtbeelde van gerubs met goud oorgetrek (Eksodus 25:18-22).
  • Salomo het twee beelde van gerubs, elk 5 meter hoog en met goud oorgetrek, laat maak en hulle in die Allerheiligste in die tempel geplaas (1 Konings 6:23-28).
  • Die mure van die tempel van Salomo was versier met houtsneewerk van gerubs (1 Konings 6:29).
  • Lewendige gerubs bewaak die tuin van Eden (Genesis 3:24), en dra die troon van God (Esegiël 9:3).
  • In 2 Samuel 22:11 en Psalm 18:11 beweeg God deur die hemel op ʼn gerub.

Beskermers van God se heiligheid

Gerubs het verskillende funksies in die Bybel: hulle bewaak die tuin van Eden (Genesis 3:24), hulle beskerm God se rusplek op aarde (1 Konings 6:29-35), en hulle beskerm en dra God se troon.

In hierdie geval het hulle ʼn beskermende funksie en terselfdertyd is hulle ʼn teken van God se teenwoordigheid, sy majesteit en sy heiligheid. Ons kom dit op verskeie plekke teë:

  • in die uitdrukking, “die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon” (bv in 1 Samuel 4:4; 2 Samuel 6:2);
  • in uitbeeldings van die verbondsark: in die tempel van Salomo het twee beelde van gerubs op die ark die troon van God gevorm. Die ark self is gesien as God se voetbank (1 Kronieke 28:2, 1933/1953-vertaling);
  • ​in die visioen van God se troon-strydwa in Esegiël 1 en Esegiël 8 – 11.

Is hulle engele?

In die Bybel self word die gerubs nie onder die engele gereken nie, maar in latere Joodse en Christelike tradisies gebeur dit wel.

Parallelle voorstellings in die Ou Nabye Ooste

In die Ou Nabye Ooste was daar voorstellings soortgelyk aan die bybelse gerubs. In Mesopotamiese tekste is daar wesens wat karibu genoem word, wat dikwels uitgebeeld word as ʼn sfinks (ʼn leeu met vlerke en ʼn menslike kop). Daar is ook beelde en figure van sfinkse wat die troon van die godheid vorm.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.17.10
VOLG ONS