Bible Society of South Africa

Engel in die Ou Testament

In die Ou Testament is daar verskillende groepe hemelse wesens wat later “engele” genoem word:

Boodskappers van God

Hemelse wesens wat God dien, word gewoonlik malakim (enkelvoud: malak) in Hebreeus genoem. Dit beteken eintlik “boodskapper”. Die aanvaarde naam vir sulke hemelse boodskappers, het “engel” geword. Hierdie hemelse boodskappers het verskeie funksies in die Ou Testament:

  • hulle gee opdragte van God deur aan mense;
  • hulle kondig spesiale gebeure aan;
  • hulle beskerm gelowiges en straf hulle vyande;
  • hulle voer God se oordeel oor sondaars uit.

Die hemelse boodskappers verskyn gewoonlik op aarde in menslike gedaante. Hulle word dikwels nie as engele herken nie (sien byvoorbeeld Genesis 18). Hulle lyk indrukwekkend (byvoorbeeld Rigters 13:6), en weet van alles wat op aarde gebeur (2 Samuel 14:20).

Ander hemelse wesens

In die Ou Testament is daar ook ander name vir hemelse wesens wat aan God behoort, soos “die seuns van God/die gode” (Genesis 6:2; Job 38:7, 1933/1953-vertaling), “die heiliges” (Deuteronomium 33:2; Job 15:15; Psalm 89:6-8; Sagaria 14:5, 1933/1953-vertaling), “tienduisend heiliges” (Deuteronomium 33:2, 1933/1953-vertaling) en “seuns van die Allerhoogste” (Psalm 82:6, 1933/1953-vertaling).
In sommige gevalle word “gode” (bv Psalm 82:6) of “hemelwesens” (bv Genesis 6:1-4) vermeld waar die Bybelse teks eintlik hulle goddelike aard onderspeel. In ander gevalle word God se goddelike dienaars vermeld.

Later is al hierdie wesens in die kategorie “engele” gegroepeer.

Gerubs en serafs

Gerubs en serafs is hemelse wesens wat, in teenstelling met die hemelse boodskappers, uitgebeeld word met vlerke. In die Bybel self word gerubs en serafs nie onder die engele gereken nie, maar in latere Joodse en Christelike tradisies is dit wel die geval.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.9
VOLG ONS