Bible Society of South Africa

Goue bulle

“Goue bulle” in die Bybel is goue beelde in die vorm van ʼn bul. Hulle is as godsdienstige voorwerpe gebruik. Die bul was ʼn belangrike simbool van krag en vrugbaarheid in die Ou Nabye Ooste.

Kalf of bul?

Sommige vertalings gee die Hebreeuse woord vir “bul” weer as “kalf”. Dit is waar die uitdrukking “die goue kalf” vandaan kom. Dit is egter meer waarskynlik dat dit die beeld van ʼn jong bul sou wees.

Beelde van bulle in die Bybel

Die twee gedeeltes in die Bybel waar die goue bulle vermeld word is Eksodus 32 en 1 Konings 12:

  • In Eksodus 32 maak Aäron ʼn bulkalf van goud vir die Israeliete in die woestyn.
  • In 1 Konings 12 laat koning Jerobeam I twee goue bulkalwers maak en plaas hulle in Bet-El en Dan. Hy probeer verhoed dat die inwoners van sy koninkryk (die noordelike ryk van Israel) altyd na Jerusalem gaan om God daar (in die suidelike ryk van Juda) te aanbid.

Daar is nog Bybelgedeeltes oor die goue bul. Die boek Hosea verbied byvoorbeeld die aanbidding van Jerobeam se kalfbeelde in die noordelike ryk (Hosea 8:5; Hosea 10:5-6).

Wie of wat verteenwoordig die goue bul?

Dit is nie seker wat die goue bul in die Bybelgedeeltes veronderstel is om te verteenwoordig nie. Daar bestaan verskeie moontlikhede:

  • ʼn Vreemde god. Dit kon die Kanaänitiese gode El of Baäl, of die maangodin Sin wees wat ook soms as ʼn bul uitgebeeld word.
  • God self. Die manlikheid en krag van die bul is ook kenmerke van God. 
  • ʼn Troon of voetstoel vir God. In die Ou Nabye Ooste is gode dikwels uitgebeeld op die rug van ʼn bul. Die bul as troon van God kan verklaar waarom Jerobeam I twee standbeelde van bulle in die tempels in Bet-El en Dan laat plaas het. Hulle was bedoel as alternatief vir die verbondsark in die tempel van Jerusalem, wat ook beskou is as die troon van God. 

Verbode

Al die Bybelgedeeltes wat die goue bul vermeld, veroordeel die maak en aanbidding van so ʼn beeld. Dit is streng verbode om beelde te maak en hulle te aanbid. ʼn Mens mag net die God van Israel aanbid.


 

Verwante Bybelgedeeltes

EKSODUS 32 1 KONINGS 12

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.7
VOLG ONS