Bible Society of South Africa

Die gegote waterbak

Die gegote waterbak is ʼn groot bronstenk wat in die suidoostelike hoek van die tempelbinnehof van Salomo se tempel geleë was. Die tenk het waarskynlik ʼn simboliese funksie gehad. Dit is deur die kopersmid Hiram gemaak.

Gebruik van die waterbak

Volgens 2 Kronieke 4:6 was die groot tenk bedoel vir die reinigingsrituele van die priesters. Hulle sou water hieruit tap om hulself te was.


Daarbenewens kon die waterbak ʼn simboliese funksie gehad het. Die waterbak se naam verwys na die Oersee. God het die mag oor die see en het dit bedwing, ʼn beeld wat byvoorbeeld ook in Psalm 89:10-12 voorkom.

Hierdie simboliese aspek van waterbakke word ook in Mesopotamië en Egipte aangetref.

Vorm

Die waterbak het op twaalf bronsbulle (“gegote beeste” in die 1983-vertaling) gerus wat in drieë gegroepeer was. Die bulle het waarskynlik nie op hul pote gestaan nie, maar gekniel vanweë die gewig van die bak.


Die twaalf bulle het ʼn simboliese betekenis gehad. Die getal twaalf verwys byvoorbeeld na die twaalf stamme van Israel. Bulle was in die Ou Nabye Ooste ook ʼn belangrike simbool van krag en vrugbaarheid.

Die rand van die bak is deur klein bronskalbasse en blare versier.

Volume

Die waterbak was ongeveer 4,5 meter breed, 2,3 meter diep en het ʼn omtrek van ongeveer 14 meter gehad. Volgens 1 Konings 7:26 (1933/1953-vertaling) kon dit 2 000 bat hou (44 kiloliter in die 1983-vertaling:); volgens 2 Kronieke 4:5 (1933/1953-vertaling) was dit 3 000 bat (66 kiloliter in die 1983-vertaling).


Daar bestaan onsekerheid oor die totale volume van die waterbak. Verskillende maateenhede is in verskillende eeue gebruik. Volgens sommige is een “bat” ongeveer 45,5 liter, in welke geval die bak ongeveer 90 850 liter kon hou (volgens 1 Konings 7:26). Ander meen weer dat ʼn bat ongeveer 22,7 liter was, in welke geval die bak ongeveer 45 400 liter kon hou.

Vernietiging van die waterbak

Koning Agas van Juda het dinge gedoen wat nie reg was in die oë van die Here nie. Hy het die bak van die rûe van die bronsbulle, waarop dit gerus het, afgehaal en dit op ʼn klipvloer geplaas (2 Konings 16:17).

2 Konings 25:13 en Jeremia 52:17 vertel hoe die tempel in Jerusalem sowel as al die bronsvoorwerpe, insluitende die gegote waterbak, in 586 v.C deur koning Nebukadnesarverwoes is. Hy het al die brons na Babilonië geneem. Dit was die begin van die Babiloniese ballingskap.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.17.10
VOLG ONS