Bible Society of South Africa

Heiligheid in die Ou Testament: Heilige mense

Verskillende groepe mense word in die Ou Testament “heilig” genoem:

  • priesters;
  • die volk Israel;
  • nasireërs;
  • eersgebore seuns.

Priesters

Priesters het hulle heiligheid deur geboorte en deur inwydingsrituele ontvang, wat salwing (Levitikus 8) ingesluit het. Hierdie heiligheid het hulle in staat gestel om die heiligdom binne te gaan en offers te bring (sien 1 Samuel 7:1; 2 Kronieke 23:6; Esra 8:28).


Onder die priesters het die hoëpriester ʼn hoër graad van heiligheid gehad as die gewone priesters. Slegs die hoëpriester is toegelaat om in die Allerheiligste van die tabernakel of die tempel in te gaan (Levitikus 16:3-4). Hy was ook aan strenger reëls onderworpe as die ander priesters.

Die volk Israel

In die Ou Testament het die volk nie dieselfde heilige status as die priesters gehad nie, en dit het laasgenoemde toegang tot die heiligdom verleen. Die volk se heiligheid is van ʼn ander aard. Die Israeliete is ʼn heilige volk omdat God hulle van die ander nasies afgesonder het en hulle uit Egipte bevry het. Dit maak God hulle God, en die Israeliete het ʼn verpligting om aan Hom gehoorsaam te wees. Deur aan Hom gehoorsaam te wees sal hulle ʼn heilige volk wees (sien Levitikus 11:44-45; Levitikus 20:7-8).

Nasireërs

Gewone mense kon tydelik ʼn toestand van heiligheid bereik wat vergelykbaar was met die heiligheid van priesters. Om dit te doen, moes hulle die nasireërgelofte aflê (Numeri 6:1-21). Nasireërs is vir ʼn bepaalde tydperk aan God gewy en moes aan sekere vereistes voldoen wat ook vir priesters gegeld het. Hulle moes byvoorbeeld geen wyn of sterk drank drink nie (soos die priester aan diens) en nie naby lyke gaan nie.



Daar is ook voorbeelde in die Ou Testament van persone wat lewenslank nasireërs was. Simson was byvoorbeeld ʼn nasireër van geboorte af (Rigters 13:5).

Eersgeborene

In Numeri word die eersgebore seuns van die Israeliete deur God as heilig verklaar (Numeri 3:13; Numeri 8:17). God het hulle in Egipte aan Hom toegewy. Daarom behoort hulle aan God en hulle moet “losgekoop word” (Numeri 18:15-16).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.17.10
VOLG ONS