Bible Society of South Africa

Wêreld van die dooies in die Nuwe Testament

Opvattings oor die lewe ná die dood kom ooreen met dié in die Ou Testament, maar dit is ook beïnvloed deur latere Joodse en Griekse denke oor die opstanding en die eindoordeel. In Paulus se geskrifte val die klem op die dood en opstanding van Jesus. Gelowiges het saam met Jesus gesterf en sal die ewige lewe saam met Hom hê.

Joodse en Griekse invloede

Die Ou Testament beskryf die wêreld van die dooies as ʼn plek waarvandaan daar geen terugkeer is nie. Slegs latere tekste, soos Daniël 12:2, praat van ʼn opstanding van die dooies en ʼn finale oordeel. Hierdie ontwikkeling word in verband gebring met die martelaarskap van Jode in die tyd van Antiogus IV Epifanes. Volgens 2 Makkabeërs 7:14 is martelare beloon met die ewige lewe.


Griekse invloede het ook hier ʼn rol gespeel. Die Ou Testament sien die liggaam en siel as ʼn enkele entiteit, terwyl die Griekse denke tussen die twee onderskei. Volgens hierdie filosofie kan die siel onafhanklik bly voortbestaan ná die afsterwe van die liggaam.

Sheol, Gehenna en die paradys

Die Nuwe Testament gebruik die woord

hades

ʼn hele aantal kere (die Griekse vertaling van die Hebreeuse woord

sheol

). Dit verwys na die onderwêreld, waar die dooies vir ewig tussen die stof en die wurms bly (sien Matteus 16:18; Lukas 10:15; Openbaring 1:18).


Benewens hierdie woord is daar ook meer spesifieke terme, soos “Gehenna”, die plek van ewige straf (sien Matteus 5:22-30; Matteus 23:33; Markus 9:43-47), en paradys, die plek van ewige vreugde (sien Lukas 23:43; Openbaring 2:7).


Hierdie woorde maak dit duidelik dat daar ʼn verskil bestaan in die doderyk tussen die lot van die regverdige en die lot van die onregverdige. Die regverdige ontvang vertroosting, maar die onregverdige gaan ly (Lukas 16:23-26).

Liggaamlike en geestelike opstanding

Paulus ontwikkel in sy briewe die filosofie van lewe na die dood. Hy praat van twee betekenisse van opstanding. Die geestelike opstanding is die gevolg van die doop: die doop bevry die gelowige van sonde en hy lewe saam met Christus Jesus (Romeine 6:1-14).


Die liggaamlike opstanding vind plaas wanneer Jesus weer kom om God se koninkryk op aarde tot stand te bring (1 Tessalonisense 4:16). Die gelowige sal dan ʼn nuwe, geestelike, onsterflike liggaam ontvang (1 Korintiërs 15).



 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.17.7
VOLG ONS