Bible Society of South Africa

Grimering en liggaamsversorging in ou Israel

In die warm, droë klimaat van die Ou Nabye Ooste, was velsorg amper so algemeen soos nou, en in ʼn gevorderde stadium van ontwikkeling. Vroue het aromatiese salwe aangewend om hulle velle te beskerm teen uitdroging. Hulle het ook hulle gesigte met helder kleure opgemaak, parfuum gebruik en hulle naels geverf.

Grimering

Alle vroue van die bevolking het grimering gedra. Dit was gemaak van grondstowwe soos koperkarbonaat (groen en blou van kleur), loodsulfaat (grys) of stibniet (antimoon, silwergrys). Hierdie grondstowwe is tot poeier gemaal en met olyfolie en salf uitgevryf en gemeng. Dit is gedoen met behulp van die sogenaamde “grimeerpalet” — ʼn klein, plat kalksteenbak. Argeoloë het verskeie hiervan gevind. Sommige voorbeelde het nog spore van blou grimering. Die grimeerpoeier is ook op ʼn palet gehou. Die poeier is op die gesig en rondom die oë met die vingers of met ʼn soort pen of paletmes aangewend. 


Daar is min verwysings in die Bybel na die aanwending van grimering op die gesig: sien veral 2 Konings 9:30, Jeremia 4:30 en Esegiël 23:40.

Skrop/skuur

“Lawastukkies” is gebruik om die gesig te skrop; dit is ʼn baie poreuse soort klip wat tydens vulkaniese uitbarstings gevorm word. Dit het op die strand in Israel uitgespoel wat van verre streke deur die see daarheen meegevoer is.

Salwe en parfuums

Na badtyd is die vel met salf ingesmeer. Die basis van hierdie salf het hoofsaaklik uit plantolie soos olyfolie, amandelolie of sesamolie bestaan. Duur salwe wat in beperkte hoeveelhede gebruik is was van diervet gemaak. Bindmiddels (soos melk, heuning en verskeie soute) en water of wyn is by die vet of olie gevoeg. Geurige kruie of blomblare is dan bygevoeg. Die salf is in klein erdeware (albaster) flesse bewaar. Benewens die versorging van die liggaam is die geurige olie ook as parfuum gebruik.


Parfuum en salwe met ʼn soet reuk was baie kosbaar in bybelse tye. In hierdie periode was die tegnieke om geurmiddels uit plante te onttrek nog baie beperk. Verder moes die geurige kruie dikwels uit ver lande ingevoer word.


In die Bybel vind ons verskeie verwysings na reukwater, insluitend Hooglied 1:3, Ester 2:12, Psalms 45:8-9, Matteus 26:7 en Lukas 7:37.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS