Bible Society of South Africa

Kinders

In bybelse tye was dit belangrik om kinders te hê. Kinderloosheid was as ʼn groot probleem beskou. Anders as in vandag se tyd was kinders ʼn praktiese noodsaaklikheid.

Gawe van God

Kinders is as ʼn gawe van God beskou (Psalm 127:3). Om kinders te hê, het verseker dat die ouers se naam bly voortbestaan. Boonop het kinders vanaf ʼn jong ouderdom met werk in die huis en op die land gehelp. Uiteindelik het hulle na hulle ouers omgesien wanneer hulle ouer geword het en hulp nodig het.

Kinderloosheid

Vroue sonder kinders was geminag. Dit het konflik veroorsaak in die familie. Hanna is byvoorbeeld deur Peninna gespot omdat sy nie kon kinders hê nie 1 Samuel 1:6. En Ragel was jaloers op haar suster, Lea, wat wel kinders gehad het (Genesis 30:1).


Kinderloosheid is dikwels as ʼn straf van God gesien. Hy was die Een wat bepaal het of ʼn vrou swanger sou raak of nie. Ons kry hierdie idee byvoorbeeld, in Genesis 29:31.

Om ʼn kind op ʼn mens se skoot te neem

Indien ʼn vrou kinderloos gebly het, kon sy kinders vir haar laat verwek het deur ʼn byvrou. Dit is wat onder andere gebeur in Genesis 30:3 waar Ragel haar slavin Bilha aan haar man, Jakob, as vrou gee. Toe Bilha swanger raak en ʼn seun het, neem Ragel die kind “op haar knieë”. Op hierdie manier neem sy die kind as haar eie seun aan (Genesis 30:6).


Ons sien dieselfde in die boek Rut, waar Naomi Rut se seun op haar skoot neem. Van toe af het die bure Obed “Naomi se seun” genoem (Rut 4:17).

Seuns en dogters

Jong kinders het min tot die samelewing bygedra. Hoe ouer iemand was, hoe belangriker was hulle rol. In die tyd van die Bybel was seuns wel belangriker as dogters (sien seun en dogter) omdat seuns selfs na hulle troue by die familie gebly het, sodat hulle na hulle ouers kon omsien.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS