Bible Society of South Africa

Huwelik in die Ou Testament

Huweliksgebruike in die Ou Testament kom veral na vore in verhale. Daar is min wette met betrekking tot die huwelik.

Via die man

In die Ou Testament het die huwelik via die man ontstaan. Dit was dus patriargaal van aard. ʼn Huwelik is dikwels deur die ouers of familie gereël. Maar daar was ook geleenthede waar mans hulle eie vroue gekies het, soos in Genesis 28:1-5 en Rigters 14:1-2.

Gemiddelde ouderdom

Die gemiddelde ouderdom waarop mense getroud is, is nie bekend nie.

In Egipte was jong vroue tussen 12 en 14 jaar oud, en jong mans tussen 14 en 20 jaar oud wanneer hulle getrou het. Maar volgens Genesis 25:20 trou Isak byvoorbeeld eers wanneer hy 40 is.

Poligamie

ʼn Man kon tegelykertyd met verskeie vroue getroud wees, maar die teenoorgestelde het nooit plaasgevind nie. Konings is veral bekend daarvoor dat hulle baie verskillende vroue gehad het. Salomo deel die troon met 700 hoofvroue en 300 byvroue.

Maar dit was waarskynlik ongewoon vir ʼn gewone man om meer as twee vroue op een slag te hê. Daar was nie baie mans wat die finansiële vermoë gehad het om vir ʼn tweede of derde vrou te kon sorg nie.

Huwelike binne die familie

Huwelike is soms binne die familie voltrek, sodat ʼn neef en ʼn niggie met mekaar kon trou. En mense het dikwels binne ʼn familiegroep getrou, soos ons in verhale oor die aartsvaders lees. In ander verhale is hierdie gebruik nie so algemeen nie. Dit was nie verpligtend om binne die familiegroep of familie te trou nie.

Huwelike met buitelandse vroue

Huwelike met buitelandse vroue het ook voorgekom, maar dit was dikwels verbode. In die boeke Esra en Nehemia is die buitelandse vroue weggestuur (Esra 10; Nehemia 13:23-28).

Buitelande vroue is as ʼn gevaar beskou, omdat hulle meesal ander gode aanbid het. In ʼn huwelik kon die hele familie dalk ander gode begin aanbid.

Huwelik as metafoor

Die huwelik word dikwels as metafoor gebruik, veral vir die verbond tussen God en sy volk. Ons sien dit byvoorbeeld in die boek Hosea.

En die liefdesverhouding in die bybelse boek Hooglied word dikwels geïnterpreteer as ʼn allegorie vir die verhouding tussen God en die volk Israel.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.17.10
VOLG ONS