Bible Society of South Africa

Besnydenis in die Bybel

In die Bybel speel besnydenis ʼn belangrike rol. Dit word beskou as ʼn teken van die verbond met God. Die konsep kan sowel letterlik as figuurlik gebruik word.

Besnydenis in die Ou Testament

Besnydenis word eerstens genoem as ʼn teken van God se verbond met Abraham. Besnydenis behels die verwydering van die voorhuid van die manlike geslagsorgaan. Dit is gewoonlik gedoen wanneer ʼn seuntjie agt dae oud was. Daar is egter verhale in die Bybel van mans wat later in hulle lewe besny is, byvoorbeeld ná die reis deur die woestyn in Josua 5:2-9. Die verhaal van Sippora in Eksodus 4:25-26 wat haar seun besny, dui aan dat vroue hierdie prosedure kon uitvoer en dat die gebruik baie oud is, gegewe die klipmes wat gebruik is.

Besnydenis in die Nuwe Testament

In die Nuwe Testament word die tydstip van besnydenis verbind aan wanneer die kind sy naam kry, soos gesien kan word in Lukas 2:21. Onder die eerste Christene is ʼn gesprek gevoer oor die vraag of besnydenis nodig was vir Christene. Volgens Paulus was dit nie die geval nie. Vir hom was die navolging van Christus al wat saak gemaak het.

Figuurlike gebruik

In die Ou en Nuwe Testament word “besnydenis” ook figuurlik gebruik. Die besnydenis van die hart of tong is byvoorbeeld ʼn metafoor vir gehoorsaamheid aan die gebooie en liefde vir God. Om “onbesnede van hart” te wees, beteken dat iemand nie die Tora navolg nie en daarom “onbesnede” is. In Kolossense 2:11 is besnydenis ʼn metafoor vir die doop.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.10
VOLG ONS