Bible Society of South Africa

Antichris

Die woord “antichris” (in Grieks antichristos) kom voor in 1 Johannes en 2 Johannes. Dit verwys na Jesus se hoofteenstander in die eindtyd. Die vermelding van die koms van die antichris is daarop gemik om die lesers van Johannes se briewe te help om die regte keuse te maak. Ander boeke in die Nuwe Testament praat van soortgelyke karakters wat teen die eindtyd gaan verskyn.

Wat weet ons van die antichris?

Die outeur van 1 en 2 Johannes sluit aan by ʼn bestaande tradisie. Jode uit die eerste eeu het die koms van Belial in die eindtyd verwag. Die opvattings rondom die antichris is waarskynlik ʼn Christelike interpretasie hiervan. Dit is nie heeltemal seker wat mense onder die antichris verstaan het nie. ʼn Paar dinge is egter duidelik:

  •  Die antichris versprei ʼn vals leer oor Christus. Hy ontken dat Jesus die Christus is en dat Jesus as ʼn mens aarde toe gekom het.
  • Die antichris is nie ʼn mens nie, maar ʼn bonatuurlike wese.
  • Die koms van die antichris is verwag voor die wederkoms van Christus.
  • Die antichris is die eskatologiese teenstander van die Christus.

Die rol van die antichris

Volgens die outeur van die briewe van Johannes is die eindtyd naby. Die feit dat die gemeente sy onderrig teenstaan, is vir hom ʼn teken van die koms van die antichris. Dit beteken ook dat Christus binnekort sal terugkeer.
Die geskiedenis het daarom ʼn kritieke fase betree. Die lidmate van die gemeente moet nou ʼn keuse maak, vír of téén die ware leer.

Soortgelyke karakters in die Nuwe Testament

Die antichris word slegs in 1 en 2 Johannes genoem. Maar ander persone wat met die antichris vergelyk kan word, word in die Nuwe Testament genoem. Die belangrikste onder hulle is:

  • Vals profete en vals messiasse. Hulle is mense wat valslik daarop aanspraak maak dat hulle die Messias is – mense wat Christus naboots (sien bv Matteus 24:23-28; Markus 13:21-23; Lukas 21:8-9).
  • Die wettelose mens. Hierdie persoon sal ongeregtigheid tot ʼn hoogtepunt voer, en hy is ʼn verteenwoordiger van Satan. Hy word vermeld in Daniël 11:36 en 2 Tessalonisense 2:3-9.
  • Die vals profeet en die dier. In Openbaring is hierdie twee figure die verteenwoordigers van Satan wat die aarde terroriseer. Die vals profeet en die dier verwys na die Romeinse Ryk en die keiser, asook die aanbidding van die keiser en die ryk.

Apokaliptiese literatuur: Boodskap

Om die doel van die apokaliptiese literatuur te verstaan, moet ons in gedagte hou wie die “goeie mense” is. In apokaliptiese beskrywings is hulle die mense wat die meeste ly te midde van die bose wêreldorde. Wie is hierdie mense? Die antwoord is voor die hand liggend, dit is die mense vir wie die apokaliptiese boeke geskryf is, die lesers wie die skrywer in gedagte gehad het. In Openbaring is dit die Christene wat vervolg word.

Volhard, beter tye lê voor

Die doel van die apokaliptiese geskrifte is om die mense vir wie dit geskryf is, te bemoedig. Die boodskap is: volhard. Dit is nou moeilik en gaan nog moeiliker raak, maar daar sal binnekort ʼn ommekeer plaasvind. Die bose wêreldorde sal plek maak vir God se wêreldorde, en dit sal ʼn vreugdevolle tyd wees.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.17.10
VOLG ONS