Bible Society of South Africa

Doop

Doop is ʼn volledige onderdompeling in water. In die Bybel is dit ʼn teken van ʼn nuwe begin en van ʼn inlywing. Jesus vra om deur Johannes die Doper gedoop te word. Later het doop ʼn belangrike toelatingsrite in Christelike gemeenskappe geword.

Agtergrond van die doop

In die Ou Testament is reiniging ʼn belangrike tema. Soms speel water ʼn rol hierin (sien bv 2 Konings 5:9-14). Doop as ʼn spesiale inisiasieritueel kom egter nie in die Ou Testament voor nie.


Heilige baddens het in Indië, Mesopotamië en Egipte bestaan. Hellenistiese godsdienste het die gebruik van heilige baddens oorgeneem. Mense het dit gebruik om hulle te reinig van rituele en morele onreinheid. Die reiniging kon ook as simbool van ʼn nuwe of ewige lewe dien.

Johannes die Doper

Johannes die Doper het mense gedoop deur hulle in die Jordaanrivier te onderdompel. Hierdie doop was nie ʼn inisiasierite nie, maar ʼn teken van ʼn innerlike verandering. Mense wat ʼn nuwe lewe wou begin, het na Johannes toe gekom om gedoop te word. Deur die doop is hulle sondes vergewe. Dit het beteken dat hulle voorbereid was op God se finale oordeel.

Jesus se doop

Jesus het ook gekom om deur Johannes gedoop te word. Matteus, Markus en Lukas maak melding van ʼn hemelse openbaring gedurende of ná sy doop. Die Heilige Gees daal op Jesus neer as ʼn duif en ʼn stem uit die hemel verklaar dat Jesus God se geliefde Seun is.

Opdrag om te doop

Die evangelis Johannes berig dat Jesus self mense gedoop het (Johannes 3:22), maar dit word later reggestel: dit is Jesus se dissipels wat mense doop (Johannes 4:2).


In die Evangelie volgens Matteus ontvang die dissipels nie die opdrag om te doop nie, tot eers aan die einde (Matteus 28:18-20). Hierdie opdrag is die enigste plek in die Evangelies waar die Christelike doop vermeld word.

Doop en die Christelike gemeenskap

In die boek Handelinge en in Paulus se briewe is doop die toelatingsrite vir nuwe volgelinge van Jesus. Deur onderdompeling deel hulle op simboliese wyse in die dood en opstanding van Jesus Christus. In die dooppraktyk kom ʼn reeks elemente bymekaar:

  • ʼn Rigtingverandering om ʼn radikale nuwe begin te maak; 
  • ʼn Reiniging van sonde; 
  • Wedergeboorte; 
  • Inlywing in die Christelike geloof.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.17.10
VOLG ONS