Bible Society of South Africa

Die koms van die Heilige Gees

Die verhaal van pinkster wys daarop dat die verskillende tale in die wêreld nie ʼn struikelblok hoef te wees om die goeie nuus van Jesus se dood en opstanding te vertel nie. Die Heilige Gees verseker dat alle mense in hulle eie taal kan hoor van die wonderlike dinge wat God gedoen het.

Die dissipels ontvang die Heilige Gees

Op pinksterdag ontvang die apostels en die ander dissipels van Jesus die Heilige Gees. In Handelinge 2:1-4 lees ons dat die dissipels ʼn geluid soos dié van ʼn kragtige stormwind hoor. Bokant die kop van elke dissipel is ʼn soort vlam ook sigbaar. Al die dissipels ontvang die Heilige Gees en begin in vreemde tale praat. 

Jode uit verskillende lande 

Op daardie tydstip was daar baie Jode uit die buiteland in Jerusalem vir die fees van die oes. Die voorouers van hierdie Jode het nie ná die Babiloniese ballingskap na Israel teruggekeer nie, of het later gevlug. Daar was ook mense uit ander nasies wat hulle tot die Judaïsme bekeer het.



In Handelinge 2:9-11 is daar ʼn hele lys gebiede in die Romeinse Ryk waarvandaan hierdie gelowiges gekom het. Al hierdie mense het na Jerusalem gekom om die pinksterfees (soos dit in die Nuwe Testament bekend staan) in die tempel te vier.

In hulle eie taal

Toe die Jode uit verskillende lande die dissipels van Jesus hoor praat, was hulle baie verbaas. Die mense hoor in hulle eie taal hoe die dissipels vertel van die uitsonderlike dinge wat God gedoen het.


Die dissipels van Jesus wat waarskynlik van kleins af Aramees gepraat het, het skielik al die tale in die wêreld bemeester. Die verskeidenheid tale in die wêreld is daarom nie ʼn struikelblok vir die verspreiding van die goeie nuus nie.

Die toring van Babel

Die begin van Handelinge 2 is ʼn duidelike verwysing na die verhaal van die toring van Babel in die Ou Testament (Genesis 11:1-9). Toe die bouwerk aan hierdie toring begin het, het almal op aarde dieselfde taal gepraat, maar God het verwarring in hulle taal gebring sodat mense mekaar nie meer kon verstaan nie.


Met pinkster word daar ʼn einde aan hierdie verwarring gebring. God gee aan Jesus se volgelinge die Heilige Gees sodat mense oor die hele wêreld die goeie nuus in hulle eie taal kan hoor.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.17.10
VOLG ONS