Bible Society of South Africa

Betroubaarheid in die Ou Testament: Betroubaarheid van mense

Mense word in die Ou Testament aangemoedig om betroubaar te bly in wat hulle sê en doen. Betroubaarheid moet sentraal staan in hulle verhouding met God en ander mense.

Waarin behoort mense betroubaar en getrou te bly?

Veral in die wysheidsliteratuur en die profete word mense aangespoor om getrou en betroubaar te wees in:

  • hulle woorde;
  • hulle dade;
  • hulle vriendskap en liefde;
  • hulle verhouding met God.

Betroubaar in woorde

Betroubare woorde is woorde wat met die waarheid ooreenstem. Om betroubaar te wees in jou woorde beteken daarom om die waarheid te praat. Dit is veral belangrik wanneer iemand ʼn getuie in die hof is (Spreuke 14:5), maar dit geld ook vir ander situasies (Spreuke 12:19).

Betroubare gedrag

Mense se gedrag behoort ook betroubaar te wees. Hulle moet opreg, eerlik en regverdig optree, sodat ander hulle kan vertrou.



Voorbeelde kan gevind word in Eksodus 18:21 (1933/1953-vertaling) wat verwys na “betroubare manne wat onregverdige wins haat”, en in Spreuke 29:14 (1933/1953-vertaling) wat verwys na ʼn koning wat “getrou aan die armes reg verskaf”.

Trou in vriendskap en die huwelik

Trou en liefde is so nou verwant in die Ou Testament dat daar een woord is wat beide betekenisse dra: die woord

chesed

. Die woord sou ook vertaal kon word as “troue liefde”. Die woord

chesed

word byvoorbeeld gebruik om die manier te beskryf waarop Rut getrou is aan haar skoonmoeder, Naomi (Rut 3:10).


Troue liefde in die huwelik word in Hosea en Jeremia bespreek, waar dit ʼn simbool is van God se verbondstrou. Die ontrou van die owerspelige vrou (Israel) word gekontrasteer met haar man (die Here) se getrouheid:



“Ek gaan jou my bruid maak vir altyd. Ek gaan jou aan My bind deur my weldade en my goeie sorg, deur my liefde (

chesed

) en my ontferming. Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou (

emuna

) sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees.” (Hosea 2:18-19)

Getrouheid teenoor God

Laastens beteken getrouheid om aan God vas te hou. Dit behels dat mense God getrou, opreg en met hulle hele hart moet dien (1 Samuel 12:24) en dat hulle nie enige ander gode moet aanbid nie (Josua 24:14).



Mense wat betroubaar genoem word omdat hulle gelewe het in gehoorsaamheid aan God, is Moses (Numeri 12:7), Samuel (1 Samuel 3:20) en Hiskia (2 Konings 18:6).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.17.10
VOLG ONS