Bible Society of South Africa

Bronne oor Paulus se lewe

Om ʼn idee te kry oor die lewe en werk van die apostel Paulus is ons afhanlik van twee bronne: sy eie briewe en die boek Handelinge. Daarbenewens is daar ʼn paar latere Apokriewe boeke met verhale oor Paulus, waarvan meeste waarskynlik onwaar is.

Egte briewe van Paulus

Tussen 50 en 60 n.C. skryf Paulus ʼn aantal briewe. Die briewe wat deur meeste Bybelgeleerdes as egte briewe van Paulus beskou word, is: Romeine, 1 Korintiërs, 2 Korintiërs, Galasiërs, Filippense, 1 Tessalonisense en Filemon.

In hierdie briewe tree Paulus na vore as ʼn toegewyde prediker van die evangelie. Hy gooi nie tou op nie, ten spyte van teenkanting en persoonlike lewensgevaar (1 Korintiërs 4:9-13; 2 Korintiërs 11:23-29). Paulus verdedig homself ook ten sterkste teen persoonlike aanvalle deur Christene en kollegas uit Jerusalem wat nie dink dat hy ʼn goeie apostel is nie.

Ander briewe

Wat ʼn aantal briewe wat aan Paulus toegeskryf word betref, betwyfel verskeie Bybelgeleerdes om verskeie redes of hy die eintlike outeur is. Die betrokke briewe is: Efesiërs, Kolossense, 2 Tessalonisense, 1 Timoteus, 2 Timoteus en Titus.

In hierdie briewe tree Paulus na vore as ʼn apostel wat ʼn veldtog teen allerhande teologiese sienings voer. Terselfdertyd probeer hy ʼn stabiele struktuur in die gemeentes vestig, deur middel van “opsieners”, “ouderlinge” en “diakens”.

Die boek Handelinge

Omtrent 30 tot 40 jaar na Paulus se dood, wy die skrywer van Handelinge ʼn groot deel van sy boek aan Paulus se lewe en werk. Bybelgeleerdes betwyfel die historiese betroubaarheid van sy weergawe. Die skrywer stel Paulus voor as iemand wat van stad tot stad reis om die evangelie te verkondig. Sodoende rig Paulus homself altyd in die eerste plek tot die Jode. Dit is eers wanneer hulle weier om hulle te bekeer dat hy hom tot die nie-Jode wend. Hy het goeie verhoudings met die apostels en die Joodse volgelinge van Jesus in Jerusalem. Hy doen ook ʼn aantal wonderwerke.

Apokriewe geskrifte

In ʼn aantal latere Apokriewe geskrifte word Paulus beskryf as ʼn merkwaardige man. Hy het baie wonderwerke verrig en omstreeks 60 n.C. as ʼn martelaar in Rome onder keiser Nero gesterf.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.8
VOLG ONS