Bible Society of South Africa

Dienaar van die Here

In die Bybel word verskillende mense as dienaars van die Here beskryf. Daar is vier gedeeltes in Jesaja wat op ʼn baie spesifieke manier oor die dienaar van die Here praat. In die Nuwe Testament word hierdie gedeeltes op Jesus van toepassing gemaak.

Dienaars van die Here

ʼn Dienaar is ondergeskik aan iemand anders, byvoorbeeld aan ʼn koning. Die woord kan egter ook ʼn godsdienstige betekenis hê wanneer dit verwys na:

  • iemand wat sy lewe aan die Here wy (sien Psalm 116:16);
  • mense met wie God ʼn spesiale verhouding het, byvoorbeeld Abraham, Moses en Dawid;
  • profete, (sien Jeremia 29:19);
  • mense wat in diens van Christus lewe; Paulus noem homself verskeie kere “Christus se dienaar”.

Jesaja en die dienaar van die Here

In die boek Jesaja (Jesaja 40 – 55) speel die dienaar van die Here ʼn belangrike rol. Vier gedeeltes, die sogenaamde “dienaarliedere”, gaan oor hom. Daar het al baie besprekings plaasgevind oor die identiteit van hierdie dienaar. In Jesaja is daar blykbaar nie net een dienaar van die Here nie. Verskeie dienaars word genoem:

  • die volk Israel;
  • die Persiese heersers Kores, Darius en Artasasta, wat die herbou van die tempel in Jerusalem ondersteun het;
  • ʼn groep mense van Israel wat lojaal aan die Here is.

Die rol van die dienaar in Jesaja

In Jesaja 40 – 55 is die dienaar die skakel tussen die volk Israel en die toegewyde mense wat die Here wil volg. Mense behoort nie nou meer aan God se volk op grond van geboorte nie, maar is slegs deel daarvan indien hulle na die stem van die dienaar luister (Jesaja 50:10). Dit skep ʼn groep “dienaars van die Here” (Jesaja 54:17).

Jesus as die lydende dienaar

Die skrywers van die Nuwe Testament pas die tekste oor die lydende dienaar van die Here op Jesus toe. Soms is daar ʼn indirekte verwysing na Jesaja (sien 1 Korintiërs 15:3; Filippense 2:6-11). Op ander plekke haal die outeurs ʼn teks oor die dienaar aan en maak dit op Jesus van toepassing. Sien byvoorbeeld:

Die skrywers van die Nuwe Testament bring Jesus se lewe en sterwe in verband met die karakter van die dienaar. Op hierdie wyse beklemtoon hulle dat Jesus se werk en lyding by die Ou Testamentiese tradisie inpas. Hulle sien Jesus as die perfekte dienaar van God.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.8
VOLG ONS