Bible Society of South Africa

Efraim

Efraim is die jongste seun van Josef en sy Egiptiese vrou Asenat, met ʼn ouer broer met die naam Manasse. Hulle grootvader Jakob beskou hulle as net so belangrik as sy eie seuns, en daarom gee hy hulle ʼn spesiale seën aan die einde van sy lewe.

Die naam Efraim 

Die naam Efraim beteken “dubbel vrugbaar”. Sy vader Josef gee aan hom hierdie naam omdat hy bly is dat hy twee seuns in die land Egipte kry.


Efraim het self vyf seuns (1 Kronieke 7:20-27), en hulle vorm saam die familiegroepe in die stam van Efraim.

Jakob kruis sy hande

Wanneer sy vader Jakob op sy sterfbed lê, bring Josef sy twee seuns, Manasse en Efraim, na hom toe (Genesis 48:1-20), met Manasse aan sy regterkant en Efraim aan sy linkerkant. Hy verwag dat Jakob ʼn belangriker seën aan sy oudste seun sal gee en die minder belangrike seën aan die jongste.


Maar Jakob wil presies die teenoorgestelde doen. Hy gee dus sy seëninge met sy hande oorkruis. Hoewel Manasse baie mag sal kry, sal Efraim nog magtiger as hy word.  

Die stam van Efraim

Alhoewel Josef ʼn seun van Jakob is, word hy nie gewoonlik beskou as een van die stamvaders van Israel nie. In plaas daarvan noem die Bybel sy seuns Manasse en Efraim dikwels stamvaders, elk met sy eie gebied. Dit is waarom die naam Efraim in die Bybel soms verwys na die stam van Efraim, wie se stamvader Efraim is, en by ander geleenthede na die gebied wat deur die nakomelinge van Efraim bewoon word, ʼn gebied in die middel van Israel, tussen die gebiede van Manasse en Benjamin.

Nakomelinge van Efraim

ʼn Seun van Efraim met die naam Refag is ʼn voorouer van Josua (1 Kronieke 7:23-27), en die ouers van die profeet Samuel het aan die stam van Efraim behoort (1 Samuel 1:1).


 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.10
VOLG ONS