Bible Society of South Africa

Elkana

Elkana is met twee vroue, Hanna en Peninna, getroud. Elkana het Hanna lief, alhoewel sy nie vir hom enige kinders kon kry nie. Uiteindelik word Hanna swanger en bring ʼn seun, wat sy Samuel noem, in die wêreld.

Die naam Elkana

Die naam Elkana beteken “God het geskep”. Volgens 1 Samuel 1:1 woon Elkana in die stad Ramatajim, en behoort hy tot die stam van Efraim.


Elkana is ʼn familienaam. 1 Kronieke 6:23-27 noem verskeie ander voorvaders wat ook Elkana genoem is. Maar volgens die geslagsregister daar, behoort Elkana tot die stam van Levi.


Ander mans in die Bybel met die naam Elkana is: Elkana, ʼn poortwag by die verbondsark (1 Kronieke 15:23), en Elkana, koning Agas van Juda se onderkoning (2 Kronieke 28:7).

Twee vroue

Elkana het twee vroue, Hanna en Peninna, maar hy het vir Hanna die liefste. Hy het waarskynlik eerste met Hanna getrou, maar toe sy geen kinders kry nie, het hy vir Peninna ook as vrou geneem.


Elkana bewys sy liefde vir Hanna tydens hulle jaarlikse besoek aan die heiligdom in Silo deur vir haar die beste deel van die offervleis te gee.


Hy praat altyd baie liefdevol met haar wanneer sy hartseer is oor haar kinderloosheid. Hy sê: “Hanna, waarom huil jy? Waarom eet jy nie en waarom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?” (1 Samuel 1:8).

Samuel 

Uiteindelik word Hanna swanger en kry sy ʼn seun wat sy Samuel noem. Hy is die profeet en rigter van die volk Israel voordat Saul koning word.


Ná Samuel se geboorte kry Elkana en Hanna nog vyf kinders: drie seuns en twee dogters (1 Samuel 2:21).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.8
VOLG ONS