Bible Society of South Africa

Herodes Antipas

Herodes Antipas is ʼn seun van Herodes die Grote. Ná die dood van sy vader word hy van 4 v.C. tot 39 n.C regeerder van Galilea en Perea. Herodes Antipas het Johannes die Doper laat onthoof. Volgens die Evangelie volgens Lukas was hy ook betrokke by Jesus se teregstelling.

Tetrarg van Galilea en Perea

Ná die dood van Herodes die Grote in 4 v.C., is sy koninkryk tussen sy drie seuns verdeel: Argelaus, Filippus en Herodes Antipas. Die Romeine het Herodes Antipas as tetrarg aangestel oor Galilea in die noorde en Perea oorkant die Jordaan.


Herodes Antipas is die bekwaamste regeerder van die drie broers. Soos sy vader Herodes, laat hy verskeie groot bouprojekte as nalatenskap agter. Die belangrikste hiervan is die bou van ʼn nuwe hoofstad aan die See van Galilea. Hy noem hierdie stad Tiberias, na die heersende Romeinse keiser Tiberius. Hierdie bouprojek is nie net groot nie, maar ook omstrede. Omdat Tiberias op ʼn voormalige begraafplaas gebou is, het baie Jode verseg om daar te bly.

Herodes Antipas in die Nuwe Testament

Volgens die Nuwe Testament laat Herodes Antipas Johannes die Doper onthoof, omdat Johannes aan hom gesê het dat hy nie met sy halfbroer Filippus se vrou moes getrou het nie (Matteus 14:1-8; Markus 6:14-22; Lukas 9:7-9). Flavius Josefus vermeld ook die konflik met Johannes die Doper, maar voer hoofsaaklik die vrees vir politieke onrus as rede aan waarom hy die profeet laat doodmaak het.


Volgens Lukas 23:7-15 is Herodes Antipas ook betrokke by die teregstelling van Jesus. Jesus het uit Galilea gekom, wat onder die gesag van Herodes Antipas geval het, en daarom stuur Pilatus Jesus na Herodes toe sodat hy Hom kon verhoor. Herodes is bly om Jesus te ontmoet, omdat hy al so baie van Hom en sy wonderwerke gehoor het. Maar Jesus antwoord nie sy vrae nie, en daarom stuur Herodes Hom na Pilatus terug en laat hom die oordeel oor Hom vel. 

Verbanning

Herodes Antipas regeer tot 39 n.C. Hy word dan deur sy neef Herodes Agrippa I van sameswering teen die Romeinse keiser Caligula aangekla. Die keiser stuur Herodes Antipas in ballingskap weg na Gallië.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.10
VOLG ONS