Bible Society of South Africa

Herodes Agrippa I

Herodes Agrippa I is die kleinseun van Herodes die Grote. Danksy ʼn goeie verhouding met die Romeinse keisers tussen 37 en 44 n.C. kry hy beheer oor die hele gebied waaroor sy oupa geheers het. Die boek Handelinge noem Herodes Agrippa in verband met die vervolging van die eerste Christene.

Uitbreiding van mag

Herodes Agrippa word in Rome groot waar hy ʼn vriend word van die latere keisers, Caligula en Claudius. Omdat hy verdink word van ʼn sameswering teen keiser Tiberius, bring hy ʼn halwe jaar in die tronk deur. Keiser Caligula, Tiberius se opvolger, laat hom egter vry en stel hom aan as die heerser oor die gebied ten noordweste van Galilea. Later kry hy ook beheer oor die streke van Galilea en Perea.


Na die dood van keiser Caligula steun Herodes Agrippa vir Claudius as sy opvolger. As beloning stel Claudius hom aan as koning oor die hele Joodse streek. Van toe af is hy koning van dieselfde gebied as sy oupa Herodes die Grote.

Vervolging van die eerste Christene

Herodes Agrippa is van nie-Joodse herkoms. Om sy Joodse onderdane se guns te wen, verkies hy om vanuit die ou stad Jerusalem te regeer. Hy maak ook van ander metodes gebruik om die Jode gunstig te stem. Hierdie agtergrond kan sy aggressiewe optrede teen die eerste Christene verklaar. Vir die Joodse leiers was dit naamlik belangrik dat die volgelinge van Jesus teengestaan moes word.


Volgens Handelinge 12:1-19 laat Herodes die lede van die eerste Christelike gemeente in Jerusalem gevange neem en mishandel. Hy laat ook die apostel Jakobus vermoor deur hom te onthoof. Aangevuur deur die positiewe reaksies van die Jode, probeer Herodes die apostel Petrus doodmaak. Maar Petrus word deur ʼn engel uit die tronk bevry, en hy vlug uit Jerusalem.

Dood en opvolging

Herodes Agrippa sterf in 44 n.C. ná ʼn kort siekbed. Die historikus Flavius Josefus en Handelinge 12:20-23 koppel sy skielike dood aan die feit dat hy toegelaat het dat hy homself tydens ʼn fees as ʼn god laat vereer het.


Omdat sy seun Agrippa II nog te jonk is om hom op te volg, word die Joodse gebied weer tydelik ʼn Romeinse provinsie. Later kry Agrippa II beheer oor ʼn deel van die vroeëre koninkryk van sy vader.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS