Bible Society of South Africa

Henog

Henog is ʼn nakomeling van Adam. Hy leef in so ʼn noue verbondenheid met God dat hy nie op die normale manier sterf nie, maar deur God weggeneem word.

Die naam Henog

Die naam Henog beteken “die toegewyde”, wat afgelei is van die Hebreeuse woord vir “toewyding”.


Henog is ʼn sewende geslag nakomeling van Adam (Genesis 5:18-24), die seun van Jered, en die vader van Metusalag. Hy word in die Nuwe Testament genoem in die lys van Jesus se voorouers (Lukas 3:37).


Daar is nog ʼn man met die naam Henog, wat as ʼn seun van Kain aangegee word. Volgens hierdie lys noem Kain hom, sowel as die stad wat hy bou, Henog (Genesis 4:17-18). Hy is dan ʼn derde geslag nakomeling van Adam.

Deur God weggeneem

In die lys van die afstammelinge van Adam neem Henog ʼn spesiale plek in. Hy het “slegs” 365 jaar gelewe, terwyl die meeste van sy voorouers baie ouer was toe hulle dood is. Verder het hy in sy lewe ʼn innige verhouding met God gehad (Genesis 5:24), en sy agterkleinseun Noag het ʼn soortgelyke nabye verhouding met God gehad (Genesis 6:9).


Die vreemdste ding omtrent Henog is sy dood. Tradisioneel word aanvaar dat hy nie op die normale manier dood is nie, maar dat hy deur God weggeneem is (Sirag 44:16; Sirag 49:14; Hebreërs 11:5). Op soortgelyke wyse word in die Bybel van die profeet Elia gesê dat hy nie op die normale manier gesterf het nie, maar dat ʼn stormwind hom in die hemel opgeneem het (2 Konings 2:11-12).

Boeke van Henog 

Daar is drie Joodse manuskripte met visioene wat aan Henog toegeskryf word (Judas 1:14). Dit staan bekend as 1, 2 en 3 Henog, en is omstreeks die begin van die Christelike era geskryf.


Fragmente uit 1 Henog is in die grotte van Qumran ontdek, maar die hele boek het slegs in ʼn Etiopiese vertaling behoue gebly. 



 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.17.10
VOLG ONS