Bible Society of South Africa

Boas

Boas is ʼn ryk boer uit Betlehem. Hy trou met Rut, wat as ʼn weduwee uit Moab daarheen kom. Boas en Rut het ʼn seun met die naam Obed, wat die oupa van koning Dawid is.

Die naam Boas

Die naam Boas beteken “in hom is krag”, wat na hom verwys as ʼn ryk en belangrike man (Rut 2:1). Boas is die kleinseun van Nagson, ʼn leier uit die stam van Juda (1 Kronieke 2:10-11). Hy is ook verlangs familie van Rut se skoonvader Elimelek.

Boas en Rut

Toe Rut koringare gaan optel vir haar skoonma Naomi en haarself, ontmoet sy Boas toevallig in ʼn land naby Betlehem. Omdat Boas goeie dinge oor Rut gehoor het, gee hy haar toestemming om are in die land op te tel totdat die hele oes ingebring is.


Een nag gaan Rut na Boas terwyl hy op die dorsvloer slaap. Sy vra hom om as ʼn losser op te tree en die grond van Naomi te koop ten einde die eienaarskap van die land in die familie te hou. Sy vra hom ook of hy met haar in ʼn leviraatshuwelik sal tree, ʼn maatskaplike gebruik waardeur ʼn kinderlose weduwee ʼn erfgenaam kan voortbring vir haar oorlede man.

Die losserskap en die leviraatshuwelik

Boas is gewillig om te doen wat Rut vra, op voorwaarde dat ʼn ander familielid, wat eerder hiervoor in aanmerking moet kom, daartoe instem. Die volgende môre wag Boas vir hierdie ander man by die stadspoort en vra hom of hy sy reg self wil uitoefen.


Hy antwoord dat hy wel bereid is om die grond te koop, maar dat hy nie kans sien om met Rut te trou nie. Daarop lig Boas die oudstes van die stad in dat hy Naomi se land sal koop en met Rut sal trou.

Vader van Obed

Boas en Rut trou en hulle het ʼn seun met die naam Obed. Obed word die vader van Isai en daardeur die grootvader van koning Dawid.


Boas word in die Nuwe Testament (Matteus 1:5; Lukas 3:32) aangeteken onder die voorouers van Jesus


 

Verwante Bybelgedeeltes

RUT 2 MATTEUS 1.5 LUKAS 3.32

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.8
VOLG ONS