Bible Society of South Africa

Gam

Gam is die jongste seun van Noag. Hy oorleef die groot vloed in die ark saam met sy ouers en sy broers Sem en Jafet. Ná die vloed word Gam die voorvader van verskillende nasies, insluitende die Kanaäniete.

Die naam Gam

Die naam Gam beteken “hitte” of “warm”. Die Bybel gee nie enige verduideliking vir hierdie naam nie. 


Volgens Genesis 9:22 is Gam die vader van Kanaän, wat die voorvader was van die Kanaäniete, die vyande van Israel. Die volk Israel het ook ʼn slegte verhouding met baie ander nasies gehad volgens Genesis 10:6-20.

In die ark

Noag, die vader van Gam en sy broers Sem en Jafet, bou ʼn ark. Hy doen dit omdat God vir hom gesê het dat Hy die aarde gaan laat oorstroom (Genesis 6:14-17). Toe die ark gereed is, gaan Noag en sy vrou saam met hulle drie seuns en hulle vrouens die ark binne. ʼn Mannetjie en ʼn wyfie van al die diere gaan saam met hulle in (Genesis 7:15).


Die water bedek die hele aarde. Ná 150 dae begin die water sak, en kan al die mense en diere uit die ark uitgaan. God seën Gam en sy broers. Hulle ontvang die opdrag om kinders te hê, sodat daar weer mense op die aarde sal wees.

Seën en vloek

Toe die aarde weer droog en bewoonbaar is, plant Noag ʼn wingerd. Volgens Genesis 9:20-21 word hy dronk van sy eie wyn en gaan lê kaal in sy tent. Sy seun Gam sien dit en vertel sy broers daarvan. Sem en Jafet gaan die tent binne en bedek hulle vader met ʼn kledingstuk.


Toe Noag uit sy roes wakker word, is hy kwaad oor wat Gam gedoen het. Hy vervloek Gam se seun Kanaän, maar seën vir Sem en Jafet. As gevolg hiervan moet die Kanaäniete die nakomelinge van Sem en Jafet dien.

Die nakomelinge van Gam

Later van tyd word hierdie verhaal gebruik om slawehandel te regverdig. Alle mense met ʼn swart vel sou dan nakomelinge van Gam wees. Deur Noag se vloek is hulle gedoem om ander as slawe te dien.


Maar Noag se vloek het niks met velkleur te doen nie. Die vloek het slegs vir die nakomelinge van Kanaän gegeld. Die Kanaäniete was die volk Israel se vyande en daarom is hulle stamvader vervloek.


 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS