Bible Society of South Africa

Abimelek (koning van Gerar)

Abimelek is die koning van die stad Gerar, in die gebied van die Filistyne op die grens met die land Kanaän. Beide Abraham en Sara, sowel as Isak en Rebekka bring as vreemdelinge tyd in hierdie stad deur.

Die naam Abimelek

Die naam Abimelek beteken “my vader is koning”. Dit is moontlik dat hierdie naam van vader na seun oorgegaan het, en dat al die konings van Gerar dieselfde naam gehad het. Die koning in Abraham se tyd sou dan die vader of die oupa van die koning in Isak se tyd gewees het.


Nog ʼn Filistynse koning met die naam Abimelek word in Psalm 34:1 genoem. Hierdie vers verwys na die verhaal van Dawid wat soos ʼn kranksinnige in die koninklike paleis opgetree het. Die verhaal speel af in die paleis van koning Akis (1 Samuel 21:10-15).


Nog ʼn persoon in die Bybel met die naam Abimelek, is Abimelek, die seun van Gideon (Rigters 8:31).

Sy is my suster

Abraham en Sara gaan woon ʼn tyd lank in Gerar, die stad van koning Abimelek. Aangesien Abraham bang is dat die koning hom gaan doodmaak, sodat hy Sara vir homself kan hê, vra hy Sara om te sê dat sy sy suster is (Genesis 20:1-2).


Dit werk nie goed uit nie. Abimelek laat Sara na sy paleis bring as deel van sy harem, maar God waarsku hom in ʼn droom dat Sara eintlik Abraham se vrou is. Hy moet haar aan Abraham teruggee, anders sal God hom laat sterwe. Die volgende oggend word Sara saam met baie geskenke aan Abraham teruggegee. Daarop verlaat Abraham en Sara Gerar. Later nooi Abimelek vir Abraham om ʼn ooreenkoms met hom te sluit (Genesis 21:22-32). 

Die appel val nie ver van die boom nie

Jare later gaan bly Isak en Rebekka ook in Gerar, en wat voorheen gebeur het, gebeur weer. Net soos sy vader, gee Isak voor dat sy vrou sy suster is, en soos tevore, vind koning Abimelek uit dat dit nie waar is nie. Hoewel hy baie kwaad is, word Isak en Rebekka toegelaat om in Gerar aan te bly (Genesis 26:6-11).


Daar word Isak so ryk dat die inwoners jaloers raak en Abimelek hom vra om te gaan. Isak sluit ʼn verdrag met Abimelek, soortgelyk aan dié van sy vader, en hulle belowe om mekaar nie skade te berokken nie (Genesis 26:26-31). 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.8
VOLG ONS