Bible Society of South Africa

Elisa

Elisa is die leerling en die opvolger van die profeet Elia. Hy begin sy optrede as profeet in die noordelike ryk van Israel op ʼn tydstip toe die koningskap van die familie van Agab naby aan sy einde kom. Soos sy leermeester doen Elisa wonderwerke en maak mense gesond.

Die naam Elisa

Die naam Elisa beteken “God het gered”.


Terwyl Elisa saam met sy vader Safat in Abel-Megola op die plaas aan die werk is, kom Elia daar langs en gooi die profetemantel om hom, ʼn teken wat aandui dat Elisa hom moet volg. Elisa los alles waarmee hy besig was en word Elia se volgeling.


Toe Elia uiteindelik in die hemel opgeneem is, laat hy sy profetemantel by Elisa as ʼn duidelike teken dat Elisa sy opvolger is. 

Leier van groepe profete

Elisa is ʼn ander soort profeet as Elia, nie net ʼn alleenloper nie, maar iemand wat die leier is van ʼn groot groep profete. Hierdie profete woon saam met hulle families in profetiese gemeenskappe in Bet-El, Gilgal en Jerigo. 


Elisa het ook beter verhoudings met die konings in Israel as Elia. Koning Joram raadpleeg Elisa vir raad (2 Konings 3:12), en Elisa waarsku die koning wanneer die Siriërs hom probeer aanval (2 Konings 6:8-9).


Tog is dit Elisa wat die ondergang van die dinastie van Agab bewerk. Hy gee aan ʼn jong profeet opdrag om Jehu, ʼn leëraanvoerder, as koning van Israel te salf (2 Konings 9:2-3). Daarna bring Jehu Agab se seun, koning Joram, en sy moeder Isebel om die lewe, en neem die troon vir homself oor.

Wonderverhale

Daar is etlike verhale in die Bybel oor wonders wat Elisa gedoen het. Hy voed ʼn groep van 100 profete met slegs 20 brode (2 Konings 4:42-44). Wanneer Naäman, die aanvoerder van die Siriese weermag, na hom toe kom met ʼn soort velsiekte, genees hy hom deur hom sewe maal in die Jordaanrivier te laat induik (2 Konings 5:1-14). Hy wek ook ʼn jong seun op uit die dood (2 Konings 4:32-37).

Dood van Elisa

Nadat Elisa sterf, word hy op ʼn spesifieke plek begrawe. Later, wanneer iemand anders op dieselfde plek begrawe word, gebeur iets wonderbaarliks. Wanneer die lyk van die man raak aan die bene van Elisa wat in dieselfde graf is, word die man weer lewendig (2 Konings 13:20-21).


 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS