Bible Society of South Africa

Herodes die Grote

Herodes die Grote was vanaf 37 tot 4 v.C. koning van die Romeinse provinsie Judea. Hy was ʼn bekwame regeerder wat groot bouprojekte uitgevoer het. Hy was egter ook baie gewelddadig en wraaksugtig.


Volgens Matteus 2:1-22 het Herodes al die pasgebore seuntjies in Betlehem laat doodmaak uit vrees vir die nuwe koning wat daar gebore sou wees.

Herodes verower die mag

Sedert 63 v.C. was Judea saam met Samaria en Idumea ʼn Romeinse provinsie. In 40 v.C. het Antigonus, wat van Hasmonese herkoms was, in opstand gekom teen die Romeine om die koninkryk van die Hasmoneërs te herstel. Die Romeine het Herodes as koning aangestel om Antigonus te beveg.


Met ondersteuning van die Romeine, verslaan Herodes Antigonus in 37 v.C. en verower die mag.


Omdat Herodes nie ʼn Jood was nie, polities pro-Romeins was en die troon op ʼn wrede manier oorgeneem het, is hy deur die Joodse volk gehaat.

Herodes “die bouer”

Herodes word ook deur historici Herodes “die bouer” genoem, aangesien hy verskeie groot bouprojekte uitgevoer het. Hy het die hawestad Sesarea volgens die Romeinse styl gebou. Hy het ook die vesting Massada versterk. Ten einde op goeie voet met die Joodse onderdane te bly, het hy die tempel in Jerusalem laat opknap en uitgebou. 

Herodes in die Nuwe Testament

Herodes die Grote is die eerste van drie heersers met die naam Herodes wat in die Nuwe Testament vermeld word. Herodes die Grote was koning ten tye van Jesus se geboorte (Matteus 2:1; Lukas 1:5). Sy seun Herodes Antipas het Johannes die Doper laat onthoof, en sy kleinseun Herodes Agrippa het Jakobus laat doodmaak (Handelinge 12:1-2). Volgens Matteus 2 het Herodes by die besoekers uit die Ooste gehoor dat ʼn nuwe koning in Betlehem gebore is. Omdat hy bang was dat hy sy mag sou verloor, het hy al die seuntjies van twee jaar en jonger in die omgewing van Betlehem laat doodmaak.

Wanneer is Jesus gebore?

Volgens die historikus Flavius Josefus sterf Herodes die Grote in 4 v.C. Dit sou beteken dat Jesus vroeër gebore is as wat ons volgens die chronologie van die Christelike jaartelling aanvaar. Dit is baie moontlik dat die Christelike jaartelling op onvoldoende gegewens omtrent die geboortejaar van Jesus gebaseer is, aangesien hierdie berekening van die jaartelling eers in die sesde eeu n.C. tot stand gekom het.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.17.10
VOLG ONS