Bible Society of South Africa

Esra

Esra is ʼn priester en skrifgeleerde wat aan die Judese ballinge wat teruggekom het, verduidelik hoe om aan die wet van God getrou te wees. Die boek Esra is na hom vernoem. Die boek het te make met die situasie van die Jode in die Persiese provinsie Juda in die eerste eeue ná die Babiloniese ballingskap.

Die naam Esra

Die naam Esra beteken “hulp”. Esra is deur Sadok ʼn nakomeling van Aäron uit die stam van Levi.


Esra is ʼn amptenaar aan die hof van die Persiese koning Artasasta I. In 450 v.C. kom hy met ʼn paar duisend Judeërs wat in ballingskap was, van Babilonië af terug na Jersualem.


Nog iemand wat Esra heet, word in 1 Kronieke 4:17-18 vermeld. Hy behoort tot die stam van Juda, en het vier seuns.

Brief van koning Artasasta

In Babilonië word Esra spesifiek belas met Joodse aangeleenthede aan die hof van koning Artasasta I. Esra vertrek uit Babilonië met ʼn spesiale brief van Artasasta (Esra 7:11-26). In daardie brief gee Artasasta aan Esra en die priesters, Leviete en ander Judese ballinge toestemming om terug te gaan na Jerusalem.


Dit bevestig ook die koning se opdrag aan Esra om ondersoek in te stel of elkeen in Juda en Jerusalem streng ooreenkomstig die wet van Moses lewe. Die koning en sy adviseurs gee aan Esra geld en kosbare geskenke as offers vir die tempel van God.

Die wet van Moses

Esra wil nie enige beskerming van die koning hê vir sy reis na Jerusalem nie, maar vertrou op God om hom en sy mede-reisgenote te beskerm. Hulle kom ná ʼn reis van vier maande veilig in Jerusalem aan.


In Jerusalem lees Esra die wette van God wat op Sinaiberg aan Moses gegee is, en die volk van Juda reageer deur opnuut te belowe om volgens die wet van God te lewe (Nehemia 8 – 10).

Vreemde vroue word weggestuur

Toe Esra in Juda aankom, ontdek hy dat baie van die Jode wat tydens die ballingskap daar gewoon het nie die wette van Moses hou nie, maar dat hulle met vroue uit ander volke trou, ʼn gebruik wat verbode was. Esra laat daarom al die vreemde vroue en hulle kinders tydens ʼn seremonie wegstuur (Esra 10:10-14). Op hierdie manier probeer hy verhoed dat die volk van Juda met die plaaslike bevolking vermeng en afstand doen van hulle tradisionele heilige lewenswyse. 


 

Verwante Bybelgedeeltes

NEHEMIA 8 ESRA 1

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.8
VOLG ONS